On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Halfklaar boupersele: ’n groeiende bekommernis in Mangaung

───   12:35 Thu, 19 Sep 2024

Halfklaar boupersele: ’n groeiende bekommernis in Mangaung | News Article
Die slote word nooit behoorlik toegemaak nie. Foto: iStock

“Inwoners vra nie veel nie – hulle wil bloot ’n stad hê waar hul strate veilig is, en waar kontrakteurs trots daarop is om klaar te maak met wat hulle begin het.”

Die bouwerk wat kontrakteurs van die Mangaung Metro onvoltooi laat, het ’n ernstige kwessie geword wat kommer wek onder inwoners én plaaslike verteenwoordigers.

Hierdie probleem is veral duidelik in woonbuurte soos Uitsig en Fichardtpark, waar gate op sypaadjies ’n wesenlike gevaar vir voetgangers inhou, sê Valerie de Kock van die VF Plus. “Daar is baie gebiede, veral in die suidelike gedeeltes van Bloemfontein, waar pype herstel word, maar die gate word nooit behoorlik toegemaak nie.”

Die gate is veronderstel om ná pypherstelwerk vir ’n dag of twee oopgelos te word. Foto verskaf

De Kock beklemtoon dat hoewel dit nodig is om konstruksiewerk vir ’n kort tydperk oop te laat om te verseker dat herstelwerk suksesvol was, dit nie onbepaald moet oop bly nie.

Sy sê die gate is veronderstel om ná pypherstelwerk vir ’n dag of twee oopgelaat te word om te verifieer dat die probleem reggestel is, maar binne ‘n week moet die verantwoordelike kontrakteur of Mangaung Metro terugkeer om die gate te vul en die area na sy oorspronklike toestand te herstel. ”Ongelukkig is dit selde die geval.”

Volgens De Kock het die situasie baie inwoners ontnugter gelaat, nie net weens die voortdurende lekkasies nie, maar ook weens die gebrek aan opvolg van herstelwerk. “In talle gevalle is die sypaadjies buite huise besaai met ongevulde gate, wat dikwels maande lank verwaarloos bly, ondanks herhaalde pleidooie om optrede.”


Besnoeiingspogings laat woonbuurte verwaarloos lyk. Foto verskaf

Sy sê hierdie nalatigheid word selfs meer gevaarlik in die nag, veral in gebiede waar straatligte nie werk nie. “Voetgangers, veral kinders en bejaardes, loop die risiko van ernstige beserings weens hierdie ongemerkte en onverligte gevare.”

De Kock sê die VF Plus het gepleit vir beter standaarde en kwaliteit van kontrakteurs wat in die gebied werk. “Ons inwoners verdien beter. Hulle verdien bouwerk van gehalte, nie besnoeiingspogings wat ons woonbuurte verwaarloos en onveilig laat lyk nie. Dit is waarvoor ons as raadslede veg.”

VF Plus pleit vir beter standaarde en kwaliteit van kontrakteurs wat in die gebied werk. Foto verskaf

Volgens De Kock is die toenemende aantal halfklaar boupersele dwarsoor Bloemfontein nie net ongerieflik nie, maar ’n dringende veiligheidskwessie wat onmiddellike optrede verg. “Inwoners vra nie veel nie – hulle wil bloot ’n stad hê waar hul strate veilig is, en waar kontrakteurs trots daarop is om klaar te maak met wat hulle begin het.”

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.