On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ses verdagtes Maandag in Noordwes-hof verwag weens motordiefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:15 Sun, 04 Aug 2024

Ses verdagtes Maandag in Noordwes-hof verwag weens motordiefstal | News Article
Foto: SAPD

“Daar is glo vasgestel dat die motors tussen Maart 2021 en Oktober 2023 in Alberton en by Hartbeespoortdam gesteel is.”

In twee afsonderlike gevalle is ses verdagtes aangekeer weens motordiefstal in die Noodwes-omgewing, sê brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder.

“ ’n Verdagte (41) is Vrydag (2/8) in hegtenis geneem en drie vermoedelik gesteelde voertuie is gekonfiskeer tydens ’n multidissiplinêre operasie wat in Jouberton buite Klerksdorp uitgevoer is.”

Drie vermoedelik gesteelde voertuie is gekonfiskeer. Foto: SAPD

Volgens Mokgwabone het die span, wat bestaan het uit Noordwes en Klerksdorp se misdaadintelligensie, voertuigmisdaadondersoekeenheid, SA Tracker Connect, Jouberton Sigbare Polisiëring, Versekeringsmisdaadburo en Cap Sekuriteit, saamgewerk om drie gesteelde Toyota Etios-voertuie terug te kry.

Daar is glo vasgestel dat die motors tussen Maart 2021 en Oktober 2023 in Alberton en Hartbeespoortdam gesteel is.

“In ’n afsonderlike geval het ’n misdaadintelligensie-gedrewe operasie Donderdag (1/8) in Brits deur die plaaslike Operasionele Koördineringsentrum gelei tot die inhegtenisneming van vyf Mosambiekse buitelandse burgers weens die besit van vermoedelik gesteelde motorvoertuie,” sê Mokgwabone.

Foto: SAPD

Die verdagtes, vier mans en ’n vrou, is aangekeer nadat lede inligting oor ’n vermoedelik gesteelde motorvoertuig ontvang en geoperasionaliseer het.

Volgens Mokgwabone het die polisie met hul aankoms by die geïdentifiseerde adres bevind dat die verdagtes onderdele van die rooi Mazda CX5 gestroop het. 

“Die motor is saam met ’n Mahindra en ’n motorfiets, wat ook by die plek gevind is, gesirkuleer. Daar is bevind dat almal deur misdaad bekom is, sê Mokgwabone en voeg by dat die Mazda met ’n saak van motorkaping verbind word, wat verlede maand in Mmakau aangemeld is.

Foto: SAPD

Kriminele word slimmer en brawer by die dag. Hulle kan voertuie (of dele daarvan) binne sekondes roof. Motorkaping of roof is nie net ’n gevaarlike en traumatiese gebeurtenis nie, maar dit is ook duur en veeleisend om alles uit te sorteer.

Virseker gee wenke oor hoe om jou motor veilig the hou:

Opsporingstoestel

Installeer ’n opsporingstoestel in jou motor! So ’n toestel sal nie net die kanse verbeter dat jy jou voertuig terugkry nie maar kan moontlik ook jou versekeringspremie verlaag. Indien jy nie so ’n toestel het nie kan jy ons gerus skakel sodat ons jou kan help met ons vennote. Daar is selfs opsporingstoestelle wat kan verhoed dat jou sein geblokkeer sal word.

‘Ratslotte skep die indruk dat ander sekuriteitsmaatreëls in plek is’

Installeer ’n alarm

Installeer ’n alarm en/of ’n immobiliseerder in jou voertuig. ’n Motoralarm behoort nie net jou motorversekeringspremie te verlaag nie maar sal ook booswigte skrik op die lyf jaag. Wat meer is, dit sal ook almal in die omgewing waarsku dat daar aan jou voertuig gekarring word. 

Jou immobiliseerder sal jou enjin stol wanneer dit aangesluit word sonder dat die immobiliseerder afgeskakel word. Dis juis hoekom dit so belangrik is om die immobiliseerderknoppie op ’n plek te sit waar kriminele dit nie sommer sal vind nie.

Sluit hom

Dit maak nie saak of jy vinnig inhardloop om jou beursie te gaan haal of die motorhek sluit nie – self al reën dit katte en honde; sluit jou voertuig! Booswigte benodig net ’n paar sekondes en dan is jou wiele skoonveld. Belê in ’n ratslot as jou motor nie reeds een het nie en sluit dit elke keer as jy parkeer. Ratslotte maak dit nie net moeiliker vir kriminele om jou voertuig te steel nie maar dit skep ook die indruk dat daar ander sekuriteitsmaatreëls in plek is, wat die skurke sal afskrik.

‘Booswigte kan jou foon gryp of jou probeer beroof as jou aandag elders is’

Hou ’n oog

Wees bewus van wat om jou aangaan. Wanneer jy by ’n verkeerslig stop moenie jou gedagtes laat dwaal nie. Hierdie is al geleentheid wat kriminele nodig het om toe te slaan. Dieselfde geld vir wanneer jy by die huis kom. Kyk rond en maak seker alles is pluis voordat jy jou motor stop en die hek oopmaak. As iets uit plek lyk of jy onseker voel, ry liefs weg en kry hulp.

Sit jou foon neer

So gepraat van aandagtig wees – hou op speel op die foon terwyl jy bestuur. Nie net is dit teen die wet nie, maar dis ook baie gevaarlik en jou versekering gaan nie uitbetaal as jy ’n ongeluk maak terwyl jy op die foon is nie. Dit is ook baie maklik vir die booswigte om jou foon te gryp of om jou te probeer beroof van jou voertuig as jou aandag elders is. Los jou foon in jou sak of beter nog, belê in ’n handvrye selfoontoestel vir jou motor.




Kattebak kraai koning

Raak maar gewoond daaraan om al jou besittings en bagasie in die kattebak te sit; of dit nou die naweek se gholfstokke is of net jou handsak – sit dit weg. Al is jou sak leeg moet dit nie op jou motor se sitplek of iewers los waar ’n mens dit maklik kan sien nie. Dit kan net iemand se nuuskierigheid prikkel en netnou is jou ruit uit en jou sak weg.

Was agter sy spieëltjies

Kyk mooi na jou voertuig en hou hom skoon. Die taak is baie makliker gesê as gedaan vir baie van ons, maar ’n skoon kar voel nie net lekker nie, dit help ook met veiligheid. ’n Voertuig wat goed opgepas word, skep die indruk dat daar moontlik veiligheidsisteme in is. Alhoewel, dit is eintlik die beste om maar tog sekere veiligheidstappe te neem vir jou motor.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.