On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bekende Suid-Afrikaanse voël kan moontlik in 2025 uitsterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:20 Sat, 03 Aug 2024

Bekende Suid-Afrikaanse voël kan moontlik in 2025 uitsterf | News Article
Foto: BirdLife South Africa

“Die Vaalrivierlewerik, ook bekend as Botha se lewerik, is op die randjie van uitwissing aangesien net sowat 340 voëls oor is.”

’n Voëlspesie wat slegs naby Wakkerstroom in Mpumalanga en Harri­smith in die Oos-Vrystaat voorkom, kan moontlik vroeg volgende jaar uitsterf. 

Die Vaalrivierlewerik, ook bekend as Botha se lewerik, is op die randjie van uitwissing, aangesien net sowat 340 voëls oor is, sê dr. Hanneline Smit-Robinson, BirdLife South Africa-bewaringshoof. “Hierdie klein bruin voëltjie, met ’n oranje-pienk keëlvormige snawel, is van Suid-Afrika en word hoofsaaklik in die grasvelde naby Wakkerstroom in Mpumalanga en Harrismith in die Vrystaat aangetref. 

“As geen bewaringstappe gedoen word nie, kan die spesie selfs al in 2025 uitsterf, wat dit die eerste voëlspesie op die Afrikavasteland maak wat uitsterf sedert BirdLife SA sulke gebeurtenisse begin aanteken het,” sê Smit-Robinson.

Die Vaalrivierlewerik. Foto: BirdLife South Africa

Robin Colyn het tydens sy doktorale navorsing aan die Universiteit van Kaapstad die haglike situasie einde 2023 en vroeg vanjaar ontdek. Volgens Colyn het hy sowat 250 km ver gestap en kon net een broeipaar vind. Dit is ’n 90%-afname sedert 2014.

Smit-Robinson sê die Vaalrivier­lewerik is moeilik om te identifiseer en die voël word dikwels aangesien vir ’n pienkbeklewerik of ’n ander grasveldspesie met vaal vere.

“Die Vaalrivierlewerik se habitat is duidelik en beperk aangesien 34% van sy grasveldhabitat onomkeerbaar getransformeer is en minder as 2% amptelik beskerm word. Gevorderde afstandwaarnemingsontledings toon ’n vermindering van 29% in geskikte habitat binne sy reeds beperkte verspreiding.

Foto: BirdLife South Africa

“Hierdie afname sal waarskynlik daartoe lei dat die spesie as kritiek bedreig op die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) se rooilys gelys word, een stap van uitwissing af.”

BirdLife SA het begin met pogings om die spesie te red, soos die aanstelling van ’n genoot deur kameras en akoestiese opnemers om die lewerike te soek wat alles deur Birding Ecotours gefinansier word.

“Die genoot sal ook met grondeienaars en boere in die gebied in gesprek tree en die situasie verduidelik. Nog genote sal eersdaags aangestel word,” sê Smit-Robinson, en voeg by dat een van die redes vir die afname die diversifisering van boerdery in die gebied kan wees.

Dr. Hanneline Smit-Robinson, hoof van bewaring by BirdLife South Africa. Foto: BirdLife South Africa

“Meer medewerkers sal binnekort aangestel word om te help met hierdie bewaringspoging.”

Smit-Robinson het die belangrikheid daarvan beklemtoon om die oorblywende habitatte te bewaar en nuwe, soortgelyke omgewings vir die voëls te skep. “Om die broeipaar te skuif is nie ’n opsie nie weens hul spesifieke aanpassing by hul huidige klimaat, maar daar is voortdurende pogings om te bepaal of hulle in gevangenskap kan paar en om beskermende neste te bou.”

Sy beklemtoon egter wanneer ’n spesie uitsterf, het dit ’n beduidende uitwerking op die eko­stelsel wat kan uitkring en alle spesies raak. “Daarom is dit kritiek dat ons alles in ons vermoë doen om dit te bewaar,” sê sy.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cgmc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.