Central SA
Eienaars, organiseerders speel sleutelrol in publiek se veiligheid─── HEIDRÈ MALGAS 12:19 Thu, 01 Aug 2024
“Nie net die publiek moet die basiese beginsels van veiligheid onthou nie; eienaars van persele en konsertorganiseerders speel ook ’n groot rol.”
Die onlangse voorvalle van diefstal by sportbyeenkomste en die gevare van nagklubs behoort mense aan te spoor om meer waaksaam te wees.
“Nie net die publiek moet die basiese beginsels van veiligheid onthou nie; eienaars van persele en konsertorganiseerders speel ook ’n groot rol,” sê Charnel Hattingh, Fidelity Services Groep se kommunikasie-en-bemarkingsgroephoof.
Hattingh beklemtoon dat openbare plekke verskeie veiligheiduitdagings inhou wat bewustheid en voorbereiding vereis. “Openbare ruimtes kan opportunistiese misdadigers lok wat maklike prooi teiken,” sê sy. Hierdie plekke sluit parkeerterreine, parke en inkopiesentrums in waar groot skares dit makliker maak vir misdadigers om ongesien toe te slaan.
‘Vermy die gebruik van OTM’s laat in die nag’
Wat veiligheid in openbare ruimtes betref, is haar raad:
- Laat duur items soos juweliersware tuis;
- verander jou daaglikse staproete om voorspelbaarheid te vermy;
- wees versigtig as jy genader word om hulp, handhaaf ’n veilige afstand en wees bewus van jou omgewing;
- vermy die gebruik van OTM’s laat in die nag; indien noodsaaklik, kies ’n goedbeligte OTM met ’n sekuriteitsaanwesigheid;
- laat oorfone tuis om afleiding te vermy; en
- reis saam met ’n vriend(in) vir onderlinge veiligheid.
Niemand hou daarvan om na te dink oor misdaad en die potensiële uitwerking daarvan op hulself of hul geliefdes nie. Ongelukkig het misdaad ’n werklikheid geword waarvoor ons voorbereid moet wees en wat ons met ons gesinslede en kinders moet bespreek.
“Die grootste geskenk wat ons kan gee, is om te verseker dat ons geliefdes weet hoe om moontlik misdaad in openbare ruimtes te vermy,” sê Hattingh.
‘Ten minste twee personeellede moet versteekte paniekknoppies by hulle dra’
Voor perseeleienaars en byeenkomsorganiseerders is waaksaamheid van kardinale belang.
“Verseker dat kringtelevisiestelsels werk en wees op die uitkyk vir enige verdagte gedrag. Ons raai aan dat ten minste twee personeellede versteekte paniekknoppies te alle tye by hulle dra.
“Vir lokale wat groot skares verwag, word dit sterk aanbeveel om ’n betroubare en geregistreerde sekuriteitsmaatskappy in te huur om sekuriteitswagte te verskaf vir die beskerming van jou lokaal en die besoeker.”
Hattingh voeg by dat sekuriteitswagte ook kan help om gaste te beveilig tydens groot tuisbyeenkomste met gereelde aankomste en vertrekke.
“Maak nie saak hoe min gaste verwag word nie, moenie die hek oop los totdat almal gearriveer het nie. Maak die hek oop en toe soos nodig. As jy ’n hekinterkomstelsel het, verifieer altyd wie by die hek is voordat jy dit oopmaak,” is Hattingh se raad.
‘Vra jou gewapendereaksiemaatskappy vir kundige advies’
Sy stel ook die volgende voor:
- Verkieslik moet gaste hul motors binne jou eiendom agter ’n geslote hek parkeer. Indien straatparkering die enigste opsie is, huur ’n sekuriteitswag om die motors dop te hou.
- Maak die voordeur se veiligheidshek oop en sluit dit soos elke gas arriveer, en los nooit die sleutel in die hek nie.
- Sodra al die gaste gearriveer het, aktiveer tuinstrale en/of elektriese heinings, wat sleutel vroeë-waarskuwingstelsels is wat jou van indringers waarsku. Vir optimale beskerming, moet hierdie stelsels aan ’n gewapende reaksiediens gekoppel wees.
- Hou honde naby die partytjie-area om te voorkom dat hulle deur hondvergiftigers geteiken word.
- Verseker goeie buitelugbeligting saans en maak seker dat sensorligte behoorlik funksioneer.
- Inspekteer deure en veiligheidshekke lukraak om seker te maak dat hulle gesluit is en dat niemand vergeet het om dit te sluit nie.
- Aktiveer jou alarm in dele van die huis wat nie gebruik word nie.
- Hou afstandbeheerde paniekknoppies binne bereik terwyl jy buite kuier.
“As jy enige vrae het oor die veiligheid van jou gaste of besoekers, vra jou gewapendereaksiemaatskappy vir kundige advies,” sê Hattingh.
OFM Nuus mvh