On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteiners gewaarsku oor toename in motorfietsdiefstal, dierevergiftiging

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:28 Wed, 30 Oct 2024

Bloemfonteiners gewaarsku oor toename in motorfietsdiefstal, dierevergiftiging | News Article
Verseker dat alarms funksioneel en geaktiveer is. Foto: iStock

’n Waarskuwing is uitgereik aan Bloemfonteiners oor ’n toename in motordiefstal en troeteldiervergiftiging.

Heelwat meer van hierdie sake is die afgelope week aangemeld, sê Fidelity ADT. Vier was in Dan Pienaar en twee in Gardeniapark en Wilgehof. Troeteldiere is vergiftig en daar was pogings tot motordiefstal.

Dis uiters belangrik om sekuriteitstoestelle buite die huis en by grensmure aan te bring, sê Charnel Hattingh, groephoof van bemarking en kommunikasie, aangesien dit met vroeë waarskuwing help. “As jou erf nie genoeg beligting het nie, word dit ’n maklike teiken vir misdadigers,” wat nou hul visier op superfietse gerig het.

Maak seker jy het genoeg ligte buite jou huis. Foto: iStock

Sy beveel aan dat eienaars opsporingstoestelle aan hul motorfietse installeer. “Ondersoeke toon dat die skuldiges dikwels die gebied verken, honde vergiftig om potensiële bedreigings uit te skakel en terug te keer om die diefstalle uit te voer. Hierdie individue is vinnig en kan binne minute in en uit wees.”

Hattingh se wenke vir veiligheid en sekuriteit:

  • Maak seker dat alle deure toegerus is met betroubare slotte.
  • Installeer behoorlike slotte of boute op skuifdeure om te verhoed dat hulle van hul spore afgelig word – dit is ’n algemene metode wat deur inbrekers gebruik word.
  • Vermy om motorfietse te parkeer op plekke wat maklik van die straat af sigbaar is.
  • Hou duplikaatsleutels veilig gestoor wanneer dit nie gebruik word nie; moenie hulle in deure los of onnodige kopieë maak nie.

Gebruik sterk, stewige slotte om hekke te sluit. Foto: iStock

  • Sluit die motorhuis en gereedskapskuur wanneer dit nie gebruik word nie om toegang te voorkom tot items wat as wapens of inbraakgereedskap gebruik kan word.
  • Installeer buiteligte wat op afstand van binne jou huis beheer kan word en oorweeg dit om bewegingsgeaktiveerde beligting te gebruik.
  • Sny swaar blare naby jou grensmuur en hekke terug om wegkruipplekke vir indringers te minimaliseer.

Aktiveer ’n alarm buite jou huis wat jou in kennis stel indien iemand op jou erf is. Foto: iStock

Hattingh beklemtoon die noodsaaklikheid om te verseker dat alarms funksioneel en geaktiveer is.

“Bly waaksaam wanneer jy rondry. As jy vermoed jy word agtervolg, moenie in jou stop nie; gaan liewer na die naaste polisiekantoor of enige besige plek. Maak altyd seker dit is veilig voordat jy jou hek oopmaak, en onthou om dit toe te maak sodra jy binne is.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.