Central SA
Voormalige polisievrou skuldig bevind ná plan om vuurwapens te steel─── HEIDRÈ MALGAS 07:30 Thu, 01 Aug 2024
“In Oktober 2019 het Job, wat toe aan beskermings-en-sekuriteitsdienste (BSD) in Bloemfontein verbonde was, ’n plan beraam om ’n roof te organiseer en vuurwapens uit ’n kluis by die BSD-kantoor te steel.”
’n Gewese polisiebeampte van Bloemfontein word later vanjaar gevonnis nadat sy na bewering beplan het om vuurwapens van sekuriteitsdienste te steel.
Noxolo Perseverance Job (39), ’n gewese polisiekonstabel, het voor die Bloemfonteinse landdroshof verskyn en is skuldig bevind aan sameswering om gewapende roof te pleeg en die oortreding van Artikel 120 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, Wet 60 van 2000, sê Christopher Singo, Valke-woordvoerder.
‘ ’n Fluitjieblaser die Valke in Bloemfontein in kennis gestel’
In Oktober 2019 het Job, wat toe aan beskermings-en-sekuriteitsdienste (BSD) in Bloemfontein verbonde was, ’n plan beraam om ’n roof te organiseer en vuurwapens uit ’n kluis in die BSD-kantoor te steel.
Sy het selfs haar amptelike vuurwapen teen ’n betaling van R50 000 aan die voornemende rowers geleen.
Die komplot is ontdek toe ’n fluitjieblaser die Valke in Bloemfontein in kennis gestel het, sê Singo. Na aanleiding van die inligting het die Valke op 8 Oktober daardie jaar ’n skyntransaksie gereël, wat gelei het tot Job se inhegtenisneming.
Job het meermale in die hof verskyn tot sy eindelik skuldig bevind is. Die saak is uitgestel tot 9 Desember vir vonnisoplegging.
In ’n ander voorval is drie polisiebeamptes op Saterdag 13 Julie in hegtenis geneem ná ’n beweerde diefstal by ’n Engen-vulstasie in Welkom.
“Die drietal – twee konstabels en ’n sersant – het op Maandag 1 Julie ’n voertuig afgetrek en die bestuurder gelas om uit te klim. Die man het geweier en na die naaste vulstasie gery, waarheen die lede hom gevolg het,” het Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens Mathe is twee mans en ’n vrou, geklee in koeëlvaste polisiebaadjies en ’n polisiemasker, op kringtelevisie gesien, waarvan die foto’s op sosiale media versprei is. ’n Wit Volkswagen Polo wat glo deur die lede gebruik is, kan ook gesien word met flikkerende blou ligte.
Sedert die voorval is maksimum hulpbronne gemobiliseer en ’n toegewyde span speurders het aan die saak gewerk om die verdagtes op te spoor en hulle is Saterdag 13 Julie in Gauteng aangekeer.