Central SA
Orkney Chip 4 Charity ondersteun Voetlig, kankerlyer─── CASEY-LEE ANTHONY 12:01 Mon, 22 Jul 2024
Sluit by OFM aan vir ’n dag van pret, kameraadskap en teruggee aan die gemeenskap.
Die Shoprite Checkers Chip 4 Charity sal Donderdag (25/7) in Orkney stop om geld in te samel vir twee begunstigdes.
Dominique Prinsloo (11) het in November verlede jaar bloed begin hoes en kanker in albei haar longe is by haar gediagnoseer.
“Die Prinsloo-gesin het die grootste deel van Desember 2023 by die Baragwanath-hospitaal in Johannesburg deurgebring, omdat Dominique verskeie toetse en behandelings ondergaan het. Daarna het sy een keer per week van Klerksdorp na die Baragwanath-hospitaal gereis,” sê Chandré de Bruyn van KOSH Kids.
Weens die ernstige toestand van albei haar longe is Dominique afhanklik van ’n suurstofmasjien vir ondersteuning. Sy het ’n tweedehandse suurstofmasjien gekry, maar weens haar toestand het sy dringend ’n nuwe suurstofmasjien nodig gehad.
“ ’n Spesiale Liefdadigheidsgholfdag is op 22 Maart gehou om die gesin te help om ’n nuwe suurstofmasjien vir Dominique te kan koop, spesifiek en hopelik dieselfde model as waaraan sy gewoond was."
Nadat sy in Mei ’n beroerte gehad het kon Dominique nie praat nie en is sy aan die regterkant van haar lyf verlam. Sy het sedertdien haar spraak herwin, maar kan nie loop nie.
Die ander begunstigde is Voetlig Family Church wat die afgelope 13 jaar bedrywig is om armoede in Orkney te probeer bekamp met die fokus op die Afrikaanse gemeenskap.
Gesinne in Orkney, Vaal, Blakeweg en Parksig sal gehelp word met kos, kindersorg en vervoer.
“Ons het 'n kinderkombuis waar kinders elke dag gratis kom eet, waar hulle na ’n kleuterskool kom en ook ’n nasorgsentrum waar ons die ouer kinders help met huiswerk. Ons het ook ’n projek vir ons bejaardes,” sê die stigter, past. Petro Kotzé.
Sluit aan by OFM vir ’n dag van pret, kameraadskap en teruggee aan die gemeenskap. Gemeenskapsdeelname help om belangrike plaaslike liefdadigheidsorganisasies en begunstigdes te ondersteun, wat ’n verskil in baie lewens kan maak.