On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Oscar
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with James
Listen Live Streams

Central SA

Boeliegedrag en kuberafknouery neem toe in Noord-Kaapse skole

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:51 Wed, 30 Oct 2024

Boeliegedrag en kuberafknouery neem toe in Noord-Kaapse skole | News Article
Foto: iStock

Misdrywe soos boeliegedrag en kuberafknouery is uiters ernstig. Diegene wat hieraan skuldig bevind word, kan vir tot drie jaar tronk toe gestuur word, ’n boete kry, of albei, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.

Boeliegedrag kan baie verskillende vorme aanneem. Dit is wanneer die boelie iemand anders slaan, stamp en stoot, lelike name toesnou, dreig, terg, nare e-posse stuur, iemand anders se besittings vat of beskadig, of sélfs iemand doelbewus uitsluit.

Volgens Kock veroorsaak dit in baie gevalle dat kinders wat geboelie word depressief raak.

Die Noord-Kaapse polisie gee raad aan kinders wat aan kuberafknouery blootgestel word:

  • Moenie reageer nie. As iemand jou afknou, onthou dat jou reaksie gewoonlik presies is wat die boelie wil hê. Dit gee hom/haar mag oor jou.
  • Moenie vergeld nie. Om met soortgelyke dreigemente te reageer, versterk die boelie se gedrag. Vermy eerder ’n hele siklus van aggressie.

Navorsing toon een uit elke vyf kinders word geboelie. Foto: iStock

  • Hou die bewyse. Aanlyn boodskappe kan gewoonlik gestoor en gewys word aan iemand wat kan help. Hou alle bewyse, selfs al lyk dit gering. Kuberafknouery kan vererger.
  • Blokkeer die boelie. Blokkeer die persoon op jou selfoon of rekenaar. As dit gebeur terwyl jy aanlyn gesels, moet jy die toep onmiddellik toemaak.
  • Rapporteer dit. Rapporteer enige aanmerkings aan die administrateurs van die sosialemediaplatform.
  • Reik uit vir hulp. Praat met ’n vriend of ’n betroubare volwassene wat kan help.

Ongeag die smart wat dit veroorsaak, is kinders dikwels huiwerig om ouers of onderwysers van kuberafknouery te vertel.

Waarskuwingstekens van kuberafknouery:

  • Jou kind is dalk die slagoffer van kuberafknouery as hy of sy hartseer, kwaad of benoud word gedurende of ná die gebruik van die internet of ’n selfoon.
  • Jou kind kom angstig voor wanneer hulle ’n SMS of e-pos ontvang of op sosialemediaplatforms was.
  • Hulle vermy gesprekke of is geheimsinnig oor rekenaar- of selfoonaktiwiteite.
  • Hulle onttrek hulle aan familie en vriende, of aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het.
  • Hulle weier om skool toe of na spesifieke klasse te gaan, of vermy groepaktiwiteite.
  • Hulle toon veranderinge in hul buie, gedrag, slaappatrone of eetlus, of toon tekens van depressie of angs.

Foto: iStock 

Voorkom kuberafknouery en leer jou kinders om:

  • Kommunikasie met kuberboelies te blokkeer;
  • Nooit hul persoonlike inligting aanlyn te plaas of deel nie, insluitend hul volle name, adres, telefoonnommer, hul skool se naam, ouers se name, kredietkaartnommer(s) of hul vriende se persoonlike inligting;
  • Nooit hul internetwagwoorde met ander te deel nie;
  • Nooit te praat oor of inligting oor jou lewe aanlyn te deel nie;
  • Nie iets aanlyn te plaas wat hulle nie wil hê hul klasmaats moet sien nie;
  • Nie boodskappe te stuur wanneer hulle kwaad of ontsteld is nie; en
  • Altyd so beleefd aanlyn te wees soos hulle persoonlik is.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.