On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Toeris in Noordwes deur olifant doodgetrap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:56 Tue, 09 Jul 2024

Toeris in Noordwes deur olifant doodgetrap  | News Article
Foto Pilanesberg Nasionale Park

“Ooggetuies vertel dat ten spyte van waarskuwings van sy metgeselle en insittendes van nabygeleë voertuie, het die man steeds die olifante te voet genader.”

’n Spaanse toeris is dood nadat hy Sondag (7/7) by ’n nasionale park deur ’n olifant doodgetrap is.

Die voorval het omstreeks 11:00 by die Pilanesberg Nasionale Park in Noordwes plaasgevind toe die man glo sy voertuig verlaat het om foto’s te neem, sê brig. Sabata Mokgwabone, ’n polisiewoordvoerder in Noordwes.

“Die slagoffer, wat saam met sy verloofde en twee ander vroue was, het na bewering gestop toe hy drie olifante met kalwers gesien het. Berigte dui daarop dat die man die motor verlaat het en die olifante genader het om foto’s te neem, wat tot die noodlottige aanval gelei het.”

Olifantkoei wou glo haar kalfies beskerm. Foto: Facebook

Die Noordwes Parke- en Toerismeraad sê die toeris is deur ’n olifantkoei aangeval wat haar kalfies wou beskerm. “Ooggetuies vertel dat ten spyte van waarskuwings van sy metgeselle en insittendes van nabygeleë voertuie, het die man steeds die olifante te voet genader, sê Thami Matshego, uitvoerende hoof van die raad.

Hy verduidelik dat die groep die park deur die Bakgatla-hek binnegegaan het en die olifante kort daarna teëgekom het. “'n Volwasse olifantkoei het op die man afgestorm, en hoewel hy probeer vlug het, is hy deur die olifantkoei getrap.

“Die olifantkoei het toe die gebied verlaat sonder om aggressie teenoor die nabygeleë voertuie te toon en in die bos verdwyn. Parkbeamptes het vinnig op die toneel gereageer om die geaffekteerde individue by te staan en die polisie met die ondersoek te ondersteun.”


Volgens Matshego word die gevaarlike aard van wilde diere duidelik vermeld op permitte en inligtingsboekies wat in Pilanesberg beskikbaar is.

“Parkbeamptes en veldwagters patrolleer gereeld die park en lig toeriste in oor die belangrikheid daarvan om in voertuie te bly, 'n veilige afstand van die wilde diere te handhaaf, en hulle eerste reg van deurgang toe te laat, en om slegs in spesiaal aangewese gebiede af te klim.


““Die reëls van die park is op die toegangspermit gedruk en moet altyd nagekom word vir die veiligheid van gaste en diere.”

Die raad het sy diepe hartseer oor die tragiese gebeurtenis uitgespreek en medelye met die slagoffer se familie en vriende betuig. Hulle het ook Sun City bedank vir die verskaffing van professionele berading aan die benoude metgeselle van die oorledene.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.