On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Derde verdagte steeds op vrye voet ná Ladybrand-plaasaanval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:11 Mon, 08 Jul 2024

Derde verdagte steeds op vrye voet ná Ladybrand-plaasaanval | News Article

“Tydens die jaagtog het die bestuurder beheer verloor en van die pad af gery. Twee verdagtes is in hegtenis geneem, terwyl die derde weggekom het.”

Twee vermeende plaasaanvallers sal na verwagting Maandag (8/7) op ’n aanklag van huisbraak in die landdroshof in Ladybrand verskyn, sê ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder. Die derde verdagte in die plaasaanval op Ladybrand is steeds op vrye voet.

Lede van Ladybrand se misdaadvoorkomingseenheid het Sondag omstreeks 04:20 ‘n verdagte motor, ‘n Audi, in die dorp opgemerk en die voertuig agternagesit. “Tydens die jaagtog het die bestuurder beheer verloor en van die pad af gery. Twee verdagtes is in hegtenis geneem, terwyl die derde weggekom het.”

Volgens Mophiring het die verdagtes die motor van ‘n boer in die distrik, Pietie van Heerden (73), se plaas gesteel.

Die aanval het Saterdag (6/7) omstreeks 17:00 plaasgevind nadat ‘n ouer vrou wat op die plaas werk glo gedwing is om die verdagtes, wat klapmusse gedra het en gewapen was, toegang tot die huis te gee.

‘Daar was nie geld in die kluise nie’

“Die verdagtes het Van Heerden in die badkamer gekry, die vuurwapen op hom gerig en geld geëis. Hulle het na bewering twee kluise deursoek, maar niks gevind nie. Daar was nie geld in die kluise nie.

Nadat Van Heerden se vrou, Desiré, wat nie in die provinsie was nie, hom nie in die hande kon kry nie, het sy ’n vriend gebel. Hy het soontoe gery en om 21:30 opgedaag om Van Heerden geboei te vind.

Volgens Mophiring het die vriend met van Heerden dorp toe gery en hulle is toe saam met die polisie terug plaas toe.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.