On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Douglas-bruid sukkel om foto’s te kry nadat sy R21 000 betaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:32 Mon, 08 Jul 2024

Douglas-bruid sukkel om foto’s te kry nadat sy R21 000 betaal | News Article
Rochelle en Nohan Visser, wat op 15 Junie getroud is. Foto: Facebook

“Lombard is twee dae voor haar troue op Facebook gesien waar hy op soek was na fotograwe wat Saterdag beskikbaar sou wees vir ’n troue in die Noord-Kaap.”

‘n Bruid van Douglas in die Noord-Kaap sukkel ná amper ‘n maand om haar troufoto’s waarvoor sy reeds betaal het te kry.

Rochelle Visser, wat op 15 Junie met Nohan getrou het, sukkel vir die afgelope drie weke om haar troufoto’s uit Luigi Lombard van Wild Wilderness Photography te kry.

Visser vertel nadat sy Lombard die R21 000 betaal het om haar sprokiesdag af te neem, het hy glo baie vaag geraak oor sy beplanning vir haar spesiale dag.


Lombard vereis ‘n 50%-deposito, maar teen die tyd wat Visser hom bespreek het, het sy nie die hele bedrag gehad nie. Hulle het toe ooreengekom dat sy hom maandeliks afbetaal.

Visser het op 9 Februarie haar laaste betaling van R9 950 aan Lombard betaal en die R21 000 sou twee fotograwe, twee videograwe en ’n gedrukte Canvas-foto ingesluit het. Sy sou ook glo binne 30 dae haar foto’s kry.

“ ’n Week voor my troue het ek gehoor dat ek glo ’n spesiale aanbieding wat hy gehad het gekoop het, wat ook bepalings en voorwaardes insluit, wat hy nooit met my bespreek het nie.”

Visser vertel die Donderdag voor haar troue het sy op Facebook gesien Lombard soek na fotograwe wat Saterdag, twee dae voor haar troue beskikbaar sou wees vir ’n troue in die Noord-Kaap.”

Terwyl sy besig was met haar grimering het sy tot haar verbasing by die instaan-fotograaf gehoor dat die fotograaf waarna Lombard gesoek het, vir haar troue was en dat Lombard eers die oggend van haar troue haar nommer aan die fotograaf gestuur het.

Visser vertel dat hoewel daar in die kontrak staan dat Lombard van ander fotograwe mag gebruik maak en dat hy verantwoordelik is vir die betaling, hy nie eenkeer met haar gekommunikeer het dat hy iemand anders gaan stuur nie.

“Ek het vir die eerste keer – twee dae ná my troue – van hom gehoor toe hy my laat weet dat hy steeds die foto’s gaan edit.”

Visser sit ook met al die skermgrepe waar Lombard aan die instaan-fotograaf gesê het dat hy haar op die dag van die troue sal betaal, maar tot op hede het sy nog geen betaling ontvang nie.

“Op dié stadium weier die instaan-fotograaf om my troufoto’s aan my of Lombard te gee, maar ek verstaan haar situasie en neem haar nie kwalik nie.”

Nohan en Rochelle Visser. Foto: Facebook

Hoewel sy al regshulp gekry het, ignoreer Lombard haar én haar prokureur, vertel Visser.

“Ek is besig om ’n plan te maak om die instaan-fotograaf te betaal sodat ons die foto’s kry.”

Visser is egter nie die enigste bruid wat hulle met Lombard vasgeloop het nie, en sy vertel intussen het ander bruide haar ook gekontak wat dieselfde oorgekom het.

OFM Nuus het Lombard probeer kontak, maar sy foon is af.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.