On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-ouetehuis van afgryse: Eise van verkragting, aanrandings

───   06:17 Mon, 08 Jul 2024

Noordwes-ouetehuis van afgryse: Eise van verkragting, aanrandings | News Article
Bewerings van verwaarlosing, verkragting en mishandeling by ouetehuis in Jericho gemaak. Foto: Masechaba Sefularo/Jacaranda FM

“Sy het ’n skaafwond op haar wang gehad. Sy het ook vir my haar been gewys waar sy ’n septiese wond gehad het wat vloei.”

Ernstige bewerings het na vore gekom van verwaarlosing, verkragting en mishandeling by die Ipeleng Bagodi-ouetehuis in Jericho, Noordwes.

Die ouetehuis naby Brits het opslae gemaak toe twee mans, onderskeidelik 75 en 92 jaar oud, in hegtenis geneem is omdat hulle na bewering die 80-jarige Godfrey Motsepe Thema in die vroeë oggendure van 30 Mei doodgeslaan het.

Twee weke later is albei beskuldigdes enkele dae uitmekaar dood terwyl hulle in aanhouding by die Kgosi Mampuru-korrektiewe sentrum in Tshwane was.

Daar word beweer dat Daniel Madumo en Jeremiah Mmatli die versiende Thema aangeval het toe hy teen een van hul beddens geleun het nadat hy van die badkamer af teruggekeer het.

In ’n vroeëre berig deur News24 het sentrumbestuurder Dipuo Sekhu gesê die aanval het plaasgevind kort nadat die versorger aan diens sy rondtes voltooi het en buite besig was om badwater vir die bejaarde inwoners voor te berei.

Sekhu word aangehaal wat gesê het dat hulle hul bes probeer het om die bloed wat uit Thema se kop “gevloei” het, te keer terwyl hulle gewag het vir ’n ambulans om op te daag.

Mmatli se familie sê egter iemand wat die voorval aanskou het, het vir hulle gesê dat dit sewe uur geneem het vir die ambulans om op te daag, en teen die tyd dat dit die sentrum bereik het, was Thema al twee uur lank dood.

Verder het hul bron aan hulle gesê Sekhu, ’n voormalige verpleegster, het na bewering niks gedoen om die slagoffer by te staan nie.

‘’n Rondloper het saans na hul beddens gekom’

Mmatli se dogter, Mmapule Maluleke, sê haar pa het vir haar gesê hy het gekla oor 'n rondloper wat saans na hul beddens gekom het. Maar behalwe dit het hy goed versorg voorgekom.  

Die oorledene het vir sowat vier jaar met blindheid geleef en was vir net meer as drie maande ’n inwoner by dié fasiliteit toe die voorval plaasgevind het. “Dit het gelyk of hy behoorlik versorg is. Hy was goed versorg; sy naels is geknip, en sy wasgoed was klaar. Hy was anders as toe hy by die huis was.

“Die enigste ding waaroor hy gekla het, was dat niemand die kwessie van die rondloper wat hulle gedurende die nag aangeraak het, aangespreek het nie. Ek voel hulle moes dit ernstig opgeneem het, want ons het gewonder of hierdie persoon moontlik sy sinne verloor het. My pa was blind, en hy kon nie sê of hierdie persoon geestelik ongesond was of net lastig was nie.”

Sy glo dat as die personeel op haar pa se klag ag geslaan het, die beweerde aanval vermy kon gewees het.

“My pa was blind. Ons het onsself gevra hoe hy so iets kon doen as hy nie kon sien nie. Waar was die versorgers toe dit alles gebeur het?”

Maluleke sê hulle het haar pa verlede naweek met meer vrae as antwoorde ter ruste gelê, aangesien niemand van die departement van korrektiewe dienste of die tehuis die gesin besoek het nie.

‘Eetstaking’

News24 het berig dat bronne by korrektiewe dienste gesê het die twee ou mans was op ’n hongerstaking. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, het egter gesê hulle kan nie Mmatli se oorsaak van dood bekend te maak nie.

Maluleke bevestig haar seun, wat sy oupa in die tronk besoek het, het vir haar gesê dat amptenare vir hom gesê het dat Mmatli weier om te eet.

“My seun het vir my gesê dat my pa swak is, hy eet nie en al wat hy wil hê, is om huis toe te kom. Die tronkbewaarders daar het my seun gevra om hom te oortuig om te eet. Maar ek dink hy kon nie eet nie, want die kos is net daar geplaas, en hy kan dit nie sien nie.”

In ’n stemnota wat met Jacaranda FM gedeel is, sê Maluleke se seun vir sy ma: “Ma, ek het die ou man gesien. Hy is swak, hulle sê hy sal nie eet nie, hy sê hy wil huis toe kom. Ma, Mdala [die ou man] is blind, hoe kon hy iemand doodmaak?”

Mmatli se dogter het toe haar neef gevra om ook die volgende dag na hom te gaan.

Jeremiah Mmatli (75) en Daniel Madumo (92) in die hof. Foto: Facebook 

“My neef het vir my gesê hy het die dag saam met my pa deurgebring, en alhoewel hy kon gesels het, het hy heeltyd genoem dat hy swak voel, en niemand het hom water gegee om te drink nie.

“Later dieselfde dag het my neef weer gebel en gesê [Mmatli] is oorlede. Dit was omstreeks 17:00, ek dink hy is net ná 15:00 oorlede toe my neef weg is, want hy het die oproep om 16:00 gekry.”

Sy sê die gesin het ontsteld gevoel nadat hulle sosiale media-kommentaar oor die voorval gelees het waarin die ou mans gevloek word.

“Ons het my pa begrawe en ons eie paaie gegaan, sonder antwoorde. Ons het maar besluit om dinge te los soos dit is en slef te genees, want my pa kom nie terug nie.

“My bejaarde ma is ook nie gesond nie,” voeg Maluleke by.

Gerugte van verkragtingsaak

Tsholofelo Mosupi beweer ’n manlike versorger by Ipeleng Bagodi het haar niggie, wat ’n inwoner was, verkrag het.

Mosupi, wie se 41-jarige wees-niggie vir minstens vyf jaar by die huis gewoon het, sê sy is gedwing om haar na ’n ander huis te skuif nadat sy gerugte gehoor het dat sy verkrag is.

‘Sy het gesê sy sien nie die belangrikheid daarvan in om my in te lig nie’

“Ek het haar soontoe geneem omdat sy nie geestelik gesond is nie en nie veel vir haarself kan doen nie. Daar is niemand om haar by die huis te versorg nie, want ons ouers is ook dood.

“Daar was praatjies dat ’n manlike werker ouer en jong vroue-inwoners by die huis verkrag het. Maar ons is nooit formeel hieroor gewaarsku nie, en toe ek die sentrumbestuurder [Sekhu] bel, het sy vir my gesê sy sien nie die belangrikheid daarvan in om my in te lig nie, want sy het dit hanteer.

“Ek het daarvan gehoor by my ma se niggie tydens ’n familiebegrafnis in Mei. Sy het my vertel dat dit oral in die dorp was en dat dit in Februarie gebeur het.”

Mosupi voer aan die “hanteer” het beteken MIV- en swangerskapstoetse is op die beweerde slagoffers gedoen. Sy beweer dit is deur die fasiliteitsbestuurder bevestig. “Sy het nie vir ons die hofdatum gegee nie, of selfs wat met die verdagte gebeur het nie.”

Mosupi sê weens haar geestestoestand kon haar niggie nooit haar weergawe van die gebeure weergee nie, maar sy sal nie ophou voordat sy geregtigheid vir haar en ander beweerde slagoffers kry nie.

Die Ipeleng Bagodi-ouetehuis. Foto: Masechaba Sefularo/Jacaranda FM

Bewerings van mishandeling afgemaak

Margaret Moremi beweer haar bejaarde ma is, na bewering deur ’n versorger by Ipeleng Bagodi mishandel.

Moremi sê sy was aanvanklik nie tevrede dat haar ma, wat met demensie gediagnoseer is, na die huis geskuif is nie, maar dit was ’n besluit wat geneem is na aanleiding van verskeie voorvalle wat kommer onder familielede veroorsaak het.

“Ek het haar by die ouetehuis gaan sien met vrugte en jogurt. Wat ek gesien het toe hulle haar na my toe bring, het my ontevrede gelaat.

“Sy het ’n skaafwond op haar wang gehad. Sy het ook vir my haar been gewys waar sy ’n septiese wond gehad het wat vloei.”


Moremi sê toe sy die personeel vra wat haar ma se beserings veroorsaak het, het sy geen antwoorde gekry nie.

Sy beweer ook haar ma het blykbaar lang periodes gegaan sonder om gebad te word.

“My ma is lig van gelaat, maar haar vel het dof en donker gelyk. Op dieselfde dag het sy gevra of ek daar is om haar saam huis toe te neem. Toe ek vir haar nee sê, het sy somber weggestap, en ek het selfs ’n traan gestort toe ek sien hoe my ma verander het.”

Moremi sê sy het toe begin navrae doen oor die proses om haar ma uit die huis te verwyder en is meegedeel dat sy vooraf ’n kennisgewing van twee maande moet indien.

‘Hulle was agter haar ma se toelae-geld aan’

Terwyl sy ontevrede was met die reaksie, het Moremi gedoen wat vir haar gesê is en twee maande gewag voordat sy teruggekeer het om haar ma te gaan haal. Sy sê egter daar was ’n nuwe struikelblok.

“Die sentrumbestuurder [Dipuo Sekhu] het vir my gesê dat omdat ek nie die een was wat my ma na die huis gebring het nie, ek haar nie kon vat nie omdat my suster hulle opdrag gegee het om haar nie in my sorg vry te laat nie. Ek het vir haar gesê ‘oor my dooie liggaam’.”

Moremi beskuldig die sentrum daarvan dat hulle agter haar ma se toelae-geld aan is, en voeg by dat Sekhu net personeelvoorskrifte oor die telefoon gegee het aangesien sy skaars by die fasiliteit was.

Sy bevestig dat sy gerugte gehoor het van die beweerde verkragtings wat by die huis plaasgevind het en nou die moord op Motsepe.

“Ons het gehoor dat een van die jonger inwoners by die fasiliteit deur ’n opsigter verkrag is. Ek weet nie wat met die saak teen hom gebeur het nie, maar ek het hom al by een van die tavernes in die dorp gesien.”

Moremi sê sy het haar eie huis verlaat om by haar ma te gaan woon sodat sy vir haar kon sorg. Sy sê nadat haar ma gemaklik geraak het, het sy vir haar gesê haar beserings was die gevolg van ’n pak slae aan die hand van ’n personeellid.

“Sy het vir my gesê dat een van die werkers haar tas gevat het en haar klere aan van die ander pasiënte gegee het. Sy het beweer toe sy die personeellid vra hoekom hulle dit doen, het die man haar met ’n stok geslaan en sy het geval.”

Moremi sê haar ma verafsku die fasiliteit. Sy voeg by dat sy die beweerde voorval aangemeld het, maar die sentrumbestuurder het glo haar klagte geïgnoreer.

‘Die sentrum moet glo einde van die maand gesluit word’

Vrae wat aan Sekhu oor die beweerde aanranding gestel is, het onbeantwoord gebly.

Jacaranda FM is betroubaar ingelig dat “amptenare”, hoewel dit onduidelik is van watter instansie, die sentrum ná die moordvoorval besoek het en beveel het dat dit teen die einde van hierdie maand gesluit moet word.

Ten tyde van hierdie verslag, het die Noordwes Departement van Maatskaplike Ontwikkeling nog nie gereageer op vrae oor die fasiliteit se registrasie en die beweerde opdrag om bedrywighede te staak nie.

Woordvoerder Petrus Siko het hom daartoe verbind om Maandag te reageer.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.