On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

2 liggame binne 2 dae op R42 by Vanderbijlpark gevind

───   HEIDRÈ MALGAS 15:11 Wed, 12 Jun 2024

2 liggame binne 2 dae op R42 by Vanderbijlpark gevind | News Article
Nico Dean Venter. Foto: Facebook

“Hulle het die liggaam van ’n man in die oop veld gekry.”

Die polisie in Sharpeville ondersoek ’n moordsaak nadat die liggaam van ’n man oorkant die Isak Steyl-stadion in Barrageweg, Vanderbijlpark, in die rigting van Vereeniging, op die R42 gevind is.

Die oorledene is uitgeken as Nico Dean Venter (20). Hy is op Saterdag (8/6) as vermis aangemeld en sy liggaam is later dieselfde dag gevind. “Hy was te voet op pad na Vereeniging vanaf sy verloofde se huis op Vanderbijlpark,” sê Busisiwe Sango, Gautengse polisiewoordvoerder.

Die polisie is na die toneel ontbied deur ’n verbyganger. Hulle het die liggaam van ’n man in die oop veld gekry. Hy het ’n swart T-hemp, bevlek met bloed, en ’n swart denim aangehad. Nie ver van die toneel nie het die polisie ook ’n blou Adidas-sweetpakbaadjie aangetref.

Nico Dean Venter en sy verloofde, Madelein Dednam. Foto: Facebook

Enigiemand met inligting oor die moord kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan ook gestuur word via die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon. Die inligting sal as vertroulik gehanteer word.

In ’n ander voorval in dieselfde omgewing ondersoek die polisie nog ’n moordsaak. Dit volg nadat die liggaam van ’n man Donderdag (6/6) in ’n oop veld oorkant die Isak Steyl-stadion op die R42 gevind is.

Die polisie sê die oorledene is ongeveer 50 jaar oud, het ’n blou denim, ’n wit T-hemp en swart Carvella-skoene aangehad. Die man is met ’n skerp voorwerp in sy bors gesteek. Twee bankkaarte met die naam T.S. Mfene is by sy liggaam gekry. Sy familie is opgespoor en het die liggaam geïdentifiseer.

‘Ons raai motoriste  af om langs hierdie pad stil te hou’

Die polisie doen ’n beroep op enigeen wat moontlik inligting oor die tweede saak het om die ondersoekbeampte by 081 660 2215 te bel. Die GPF Vanderbijlpark Sektor 3 waarsku motoriste oor die onlangse voorvalle van kapings en moorde op Barrageweg (R42) tussen Makro en die Isak Steyl-stadion.

“Ons raai motoriste ten sterkste af om onder enige omstandighede langs hierdie pad stil te hou aangesien dit ’n gevaarlike gebied geword het,” sê Sango.

OFM Nuus/ Heidre Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.