On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Glen-moorde: Inhegtenisneming verwelkom

───   10:48 Mon, 13 May 2024

Glen-moorde: Inhegtenisneming verwelkom | News Article
Christo (76) en Christa (73) Morrison. Foto: Facebook

“Christa se liggaam is in ’n septiese tenk op die plaas gevind.”

Die VF Plus verwelkom die inhegtenisneming van twee verdagtes vir die moord op die Morrison-egpaar van Glen naby Bloemfontein.

’n Bekommerde buurman kon nie die egpaar Christo (76) en Christa (73) Morrison op hul selfoon in die hande kry nie en het Saterdag (4/5) die Glen-polisiekantoor genader.

Met die aankoms van die polisie op die plaas was die deure van die huis oop en daar was bloed op die vloer. ’n Soektog na die bejaarde egpaar begin aangesien daar geen teken van hulle in die huis was nie. Die egpaar, wie se plaas sowat 25 km buite Bloemfontein is, se liggame is later gevind.

Christo se liggaam is sowat 300 meter van die plaashuis aangetref. Christa se liggaam is in ’n septiese tenk op die plaas gevind. Hul voertuig, ’n Toyota Land Cruiser, is naby Majwemasweu by Brandfort gevind.

Die provinsiale eenheid teen ernstige geweldsmisdaad het Vrydagmiddag (10/5) inligting ontvang oor waar die verdagtes hulle bevind. “Die span is saam met Welkom se taktiesereaksie-eenheid na ’n gastehuis op Bloemhof, waar twee mans, onderskeidelik 26 en 39 jaar oud, in hegtenis geneem is. Hulle het die twee selfone wat aan die slagoffers behoort het, in hul besit gehad,” sê sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.


Jan van Niekerk, Vrystaatse VF-leier, het die polisie bedank vir sy vinnige optrede en die gemeenskap vir hul bydrae wat daartoe gelei het dat die verdagtes aangekeer is. “Plaasaanvalle en -moorde kan nie as gewone misdaad beskou word nie, veral weens die wreedheid wat daarmee gepaard gaan.”

Die VF Plus dring weer daarop aan dat dié soort misdaad tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar word, het Van Niekerk gesê.

“Ons doen ook ’n beroep op veral landelike gemeenskappe om by hul plaaslike veiligheidstrukture aan te sluit en nie hul waaksaamheid te verslap nie.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.