On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Moordverdagte in Christiana-hof verwag

───   HEIDRÈ MALGAS 11:27 Sat, 28 Sep 2024

Moordverdagte in Christiana-hof verwag | News Article
Die moordverdagte word Maandag in die hof verwag.

“Die soektog het voortgeduur en nog liggaamsdele is gevind.”

’n Verdagte word Maandag (30/9) in die Christiana-landdroshof verwag weens die beweerde moord op sy eks-meisie se vriend (31).

Die verdagte (40) is Vrydag (27/9) deur die polisie in Christiana in hegtenis geneem weens die beweerde moord Donderdag (26/9).

“Die verdagte het sy eks-meisie na bewering saam met die slagoffer by haar huis in Utlwanang gevind. ’n Rusie het ontstaan en die verdagte het na bewering die slagoffer doodgesteek, sy liggaam na nabygeleë bosse gesleep, die slagoffer vermink deur sy bene en geslagsdele te verwyder voordat hy die liggaam in die rivier gegooi het,” sê Amanda Funani, polisiewoordvoerder.


“Die eks-meisie het haar vriend as vermis aangemeld. Die polisie het verneem dat die verdagte gesien is terwyl hy ’n kruiwa na die rivier gestoot het.”

“Polisieduikers is ingeroep en het Donderdag die boonste deel van die slagoffer se liggaam en een been gevind. Op Vrydag (27/9) het die soektog voortgeduur en nog liggaamsdele is gevind.”

Provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Sello Kwena, het die misdaad veroordeel en alle lede betrokke, insluitend die duikers, bedank vir hul vinnige reaksie in die inhegtenisneming van die verdagte.

OFM Nuus het voorheen berig dat ’n Mosambiekse burger Sondag (8/9) in hegtenis geneem is in verband met die beweerde moord op Nomsa Jass (26).

Haar gedeeltelik ontbinde liggaam is Sondag (8/9) in die bosse langs die R501-pad in Blybank, Carletonville, ontdek. “Die verdagte is in hegtenis geneem en aangekla van ontvoering, roof, en moord. Die ondersoeke na die saak, insluitend die soektog na die ander verdagte, duur voort.”

Sy is laas gesien op Sondag (25/8) toe sy haar werkplek by ’n winkelsentrum in Potchefstroom verlaat het en nie die volgende dag opgedaag het nie. Haar werkgewer het haar familie gekontak om uit te vind oor haar afwesigheid.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.