Central SA
Senior regsman van Bloemfontein wéét hoe om kettie te skiet─── 14:52 Fri, 16 Feb 2024
![Senior regsman van Bloemfontein wéét hoe om kettie te skiet Senior regsman van Bloemfontein wéét hoe om kettie te skiet | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/84268b39-dfb1-458e-8e2b-085a5cdebe95.jpg?crop=0,66,450,319)
“Dit is regtig lekker as ’n mens na ’n blikkie koeldrank toe skiet en die ding spat uitmekaar.”
Die meeste seuns, selfs meisies, onthou kettie-skiet as deel van hulle grootwordjare.
Maar dié sportsoort hoef nie net tot kinders beperk te wees nie, sê adv. Vic de Bruyn, senior staatsaanklaer in die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in die Vrystaat. Hy is onlangs as een van die topskuts op die Vrystaatse Ope Kettieskietkampioenskap gekroon. Die byeenkoms is vandeesmaand in Bloemfontein gehou.
De Bruyn sê skuts neem in verskillende afstande deel. Dit wissel tussen 10m, 15m en 20m. Die teiken se deursnee het ook verskillende groottes van 2cm tot 10cm.
Adv. Vic de Bruyn is ’n kranige kettieskieter. Foto verskaf
Hy het die silwermedalje as die algehele tweede beste skut ontvang en was ook die naasbeste skut in die senior mansafdeling. Elke skut kry 20 punte per afstand en op die einde wen die een met die meeste punte, verduidelik hy.
“Ek het so twee jaar gelede hiermee begin. Wat dit vir my lekker maak, is dat jy dit by jou huis kan doen. Jy hoef nêrens heen te ry nie.”
Hy sê ’n mens moet wel net seker maak dit is veilig. ’n Mens skiet met ’n staalballetjie. “Die kettie skiet nogal hard. ’n Mens kan klein wild daarmee doodskiet.” Hy het self nog nooit op diere geskiet nie en wil ook nie.
De Bruyn vertel hy skiet saam met sy mentor, Kobus Barnard. Hy is ’n wêreldkampioen in pyl-en-boog en het vir De Bruyn aan die sportsoort bekendgestel.
Moderator van Kettie Skiet Suid-Afrika, Niel Pretorius, het dié video op Facebook geplaas.
“Ek dink dit is ook ’n lekker manier om van spanning ontslae te raak. Dit is groot pret. Dit is regtig lekker as ’n mens na ’n blikkie koeldrank toe skiet en die ding spat uitmekaar.”
Om sport te doen en aktief te wees is nog altyd ’n groot deel van De Bruyn se lewe. Hy is ’n driekampatleet. “Dit is al die jare vir my baie lekker. Ek dink veral so iets is belangrik in die sin dat ’n mens, soos wat jy ouer word, jou oefening afwissel.”
Hy is ook ’n geweerskut. Maar vir nou geniet hy die kettie baie.
OFM Nuus/Karen van der Bergcg