On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse meisie vra DBV-kos pleks van geskenke vir verjaardag

───   KAREN VAN DER BERG 15:15 Thu, 15 Feb 2024

Bloemfonteinse meisie vra DBV-kos pleks van geskenke vir verjaardag | News Article
Gemma Kahts van Bloemfontein. Foto verskaf

“Sy het ook beslis ’n gawe om met diere te werk en sy trek hulle soos magnete na haar toe aan.”

’n Jong diereliefhebber van Bloemfontein het onlangs op eie stoom amper 100 kg kos vir diere by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ingesamel.

Gemma Kahts, ’n gr. 2-leerling aan die Laerskool Eunice, het besluit sy wil geen geskenke vir haar agtste verjaardag hê nie, maar slegs skenkings vir die DBV.

Laurienne Kahts, haar ma, sê dit is nie die eerste keer wat Gemma die inisiatief neem nie. “Sy het reeds in 2019 vir my gesê sy wil nie geskenke hê wanneer haar maats na haar partytjie toe kom nie. Dit was in die jaar wat sy maar drie jaar oud geword het. Sy het gevra dat almal wat na haar verjaardag toe kom, eerder honde- en katkos skenk.”

Gemma Kahts saam met haar yorkie, Stiker. Hy was voorheen mishandel en sy het hom aangeneem. Foto verskaf

Dit het toe ’n jaarlikse instelling geword; almal weet reeds wanneer Gemma verjaar, moet hulle nie eens daaraan dink om vir haar iets te koop nie. Die geskenke is altyd vir diere.

“Gemma is ’n baie groot diereliefhebber. Sy het ook beslis ’n gawe om met diere te werk en sy trek hulle soos magnete na haar toe aan. Sy verstaan hulle en weet hoe om vir hulle om te gee.”

Laurienne sê vanjaar het Gemma amper 100 kg se kos ingesamel. Sy het ook al ander instansies benewens die DBV ondersteun. Haar broer, Alexander (9), het ook al vir twee van sy verjaardae kos vir honde en katte ingesamel.

‘Sy is trots op haar vriende wat skenkings maak’

Laurienne sê dit beteken regtig baie vir Gemma om by so iets betrokke te wees. “Sy is ook baie trots op haar vriende wat almal sulke ruim skenkings maak.” Dit het Gemma ook geleer om dankbaar te wees vir dit wat sy het en dat sy in ’n posisie is om te help.

Laurienne sê die familie glo daarin om nuwe tuistes vir honde te vind en honde aan te neem van organisasies wat vir hulle tuistes vind. Dit gaan vir hulle oor veel meer as om net kos te skenk.

OFM Nuus/Karen van den Berg dg






@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.