On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Steeds geen spoor van ontvoerde sakeman van Vereeniging

───   ZENANDE MPAME 05:30 Sat, 21 Sep 2024

Steeds geen spoor van ontvoerde sakeman van Vereeniging | News Article
Steeds geen spoor van ontvoerde sakeman van Vereeniging. Foto: rsa.worldorgs.com

“Daar is ’n kommerwekkende toename in ontvoerings in verskeie provinsies in Suid-Afrika en sake-eienaars loop veral deur.”

Dit is reeds drie weke sedert die eienaar van ’n lekkergoedwinkel in Vereeniging ontvoer is, en steeds is daar geen teken van die eienaar van Mimosa Sweets nie.

Irfaan Dadabhay is Donderdag 29 Augustus laas buite sy onderneming gesien toe sy ontvoerders om in ’n voertuig ingedwing het. Dié voertuig is later daardie dag naby ’n informele nedersetting, Phumasbethane, oftewel Phumas, in Sharpeville gevind.

“Ek kan bevestig dat ons steeds nie die slagoffer opgespoor het nie en die ondersoek duur voort,” sê Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder. “In hierdie stadium kan ek nie veel inligting verstrek nie, want dit is ’n sensitiewe saak en ons ondersoek dit nog.”

Die vermeende voertuig wat na bewering die sakeman ontvoer het. Foto:Facebook/Vaal Times

Vaalweekblad berig beeldmateriaal van die voorval wys hoe gewapende mans een-een by sy winkel instorm en hom aan die arms en bene uitdra en in ’n motorvoertuig indwing. Volgens bronne is hy tydens die ontvoering geskiet.

Volgens misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van 2023/24 is 3 976 ontvoerings tussen 1 Oktober en 31 Desember 2023 aanhangig gemaak. In 138 gevalle is ’n losprys geëis, terwyl 23 met mensehandel verband hou en 18 met afpersing.

eNCA berig daar is ’n kommerwekkende toename in ontvoerings in verskeie provinsies in Suid-Afrika en sake-eienaars loop veral deur. Maar die polisie sê hulle is goed toegerus om ontvoerings te bestry.


“Ons sien dat baie sakelui en ryk mense geteiken word, maar baie verdagtes sal sommer ’n teiken in ’n winkelsentrum of enige plek gewaar en hulle ontvoer en as gyselaar aanhou,” sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

“Ons is redelik vol vertroue dat ons die nodige vordering maak. Ons doen ’n beroep op ons gemeenskappe om nou saam met ons saam te werk en enige verdagte optrede in hul gemeenskappe by die polisie aan te meld.”

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.