Central SA
Vanderbijlpark-seuntjie steeds nie wakker ná amperverdrinking─── KAREN VAN DER BERG 11:17 Mon, 05 Feb 2024
“Ons bid en kry elke dag krag van die Here af om aan te gaan. Ons sal aanhou glo daar is ’n rede dat Hy ons babatjie vir ons terug gegee het.”
Hulle probeer sterk staan vir hulle “Boeta”, maar dit is baie moeilik. So sê ’n emosionele Chanelle Lamprecht, ma van Auden Lamprecht (2), wat op 22 Desember in die swembad van hulle woonstelkompleks in Vanderbijlpark geval het en amper verdrink het. Hy was ’n onbepaalde tyd sonder suurstof.
Auden is verlede week na die Lambano-rehabilitasiesentrum in Germiston geskuif. Foto verskaf
Auden is verlede week, ná 32 dae, uit die pediatriese hoësorgeenheid van die Netcare Alberton-hospitaal ontslaan en is na die Lambano-rehabilitasiesentrum in Germiston geskuif. Dokters meen hy het breinstambeserings opgedoen en sal moontlik serebraal gestremd wees. Hy het ook nog nie wakker geword of sy ogies oopgemaak nie. Hy kan wel voel.
“Die pad vorentoe is maar om dinge dag vir dag te neem,” sê sy.
Sy en haar man, Jaques, gaan nou moet leer hoe om na Auden te kyk wanneer hy huis toe gaan. Hulle moet ook sy traggie, of trageotomie, skoonmaak – ’n mediese pyp wat aan die lugpyp gekoppel word om asemhaling te vergemaklik, asook sy voeding behartig en hom daagliks laat oefen.
“Ons staan sterk. Ons familie en vriende bied wonderlike ondersteuning. Vir nou vat ons dit dag vir dag en probeer net ons beste om alles te leer sodat ons Boeta self kan versorg.”
Auden saam met sy ouers, Jaques en Chanelle. Foto verskaf
Jaques sê dinge gaan rof en die gesin weet nie waar om te vat of te los nie.
“Dit is sleg dat Auden nog nie wakker geword het nie. Die pad vorentoe lyk vir ons baie onbekend omdat hy nog nie sy ogies oopgemaak het nie en ons nie presies weet wat die skade is wat hy opgedoen het nie.”
Hy sê hulle probeer net hulle bes.
Klein Auden Lamprecht (2) ná die fratsongeluk waarin hy in ’n swembad geval het. Foto verskaf
“Ons bid en kry elke dag krag van die Here af om aan te gaan. Ons sal aanhou glo daar is ’n rede dat Hy ons babatjie vir ons terug gegee het.”
Back-a-Buddy-rekening vir Auden geopen
Die ouerpaar het wel ’n hospitaalplan, maar dit is nou uitgeput. Familie en vriende het intussen ’n Back-a-Buddy-rekening vir Auden geopen in die hoop dat mense sal bydra om noodsaaklike rehabilitasietoerusting te kan koop, en om die uitstaande hospitaalrekening te help betaal.
OFM Nuus/Karen van der Berg cg