On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Werner de Jager hoor moontlik vandag oor borgaansoek

───   KAREN VAN DER BERG 10:09 Mon, 05 Feb 2024

Werner de Jager hoor moontlik vandag oor borgaansoek | News Article
Werner de Jager (45) word van die moord op sy vrou, ds. Liezel de Jager, van die NG Gemeente Suidkus in KZN, aangekla. Foto: Facebook

“Mense moet in groot getalle by die hof opdaag en vra dat Werner nie borgtog toegestaan word nie.”

Alle oë sal vandag op die hofsaak wees waarin Werner de Jager (45), man van die vermoorde ds. Liezel de Jager van die NG Gemeente Suidkus in KZN, moontlik sal hoor of hy borgtog toegestaan gaan word of nie.

Werner, die moordbeskuldigde, staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade weens die moord op sy vrou. Hy is ook aangekla vir twee sake van bedrog. Die borgaansoek vind in die landdroshof op Amanzimtoti plaas.

In ’n video wat wyd op sosiale media versprei is, is mense versoek om in groot getalle by dié hof op te daag. Hulle word aangemoedig om te vra dat Werner nie borgtog toegestaan word nie.


Lt.kol. Marietjie Roodt, ondersoekbeampte in die moordsaak van die eenheid vir onopgeloste sake, het aan OFM Nuus gesê indien daar nie iets onvoorsiens opduik nie, behoort daar later vandag ’n uitspraak in die borgaansoek te wees.

Vroeër is berig Liezel is op 13 Oktober 2021 in die oprit van die pastorie op Amanzimtoti aangeval en verwurg. Sy het pas teruggekeer van haar drafsessie saam met haar drafgroep. Werner het destyds beweer hy het op haar afgekom en toe die veiligheidsmaatskappy laat weet. Hy is in November in Bloemfontein in hegtenis geneem.

Die De Jager-gesin. Foto: Facebook

Roodt het gesê Werner het vroeër in ’n verklaring erken dat hy Liezel se keel afgesny het en ook haar lyk geskuif het.

Maar in ’n verklaring wat in Januarie in die hof  deur sy regsverteenwoordiger, adv. André May, gelees is, het hy alle betrokkenheid by haar moord ontken.

’n Plasing van die vermoorde ds. Liezel de Jager op Facebook. Foto: Facebook

Roodt en haar span ondersoek ook ’n ongeluk waarin Werner verlede jaar op die N1 in die Vrystaat betrokke was. Twee mense is in die ongeluk dood. Die ondersoek is volgens Roodt in ’n “sensitiewe stadium”; daarom kan die polisie nie meer inligting daaroor bekend maak nie. Daar word wel verwag dat Werner ook vir die ongeluk vervolg gaan word. 

OFM Nuus/Karen van der Berg cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.