On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Vaalrivier word vinnig teelaarde vir indringerplante

───   KAREN VAN DER BERG 15:50 Tue, 23 Jan 2024

Vaalrivier word vinnig teelaarde vir indringerplante | News Article
Foto: Anthony Turton

“Daar is nie ag geslaan op hul noodkrete nie, en die probleem het nou so uitgekring. Daar was as’t ware ’n ontploffing van die plante.”

’n Ramp met vernietigende gevolge wat alle lewe in die Vaalrivier bedreig, speel hom af in een van Suid-Afrika se belangrikste riviere. As dit nie gekeer word nie, kan dit selfs lei tot probleme om Gauteng van drinkwater te voorsien.

Dr. Anthony Turton, omgewings-en-waterkenner, het onlangs op sosiale media skokkende foto’s en video’s geplaas van die kombers waterslaai (Pistia stratiotes),’n aggressiewe indringerplant wat teen ’n ontstellende spoed versprei.

Die plant is besig om sekere dele van die rivier oor te neem. Die waterslaai het geen natuurlike vyand nie.

Die waterslaai is besig om die Vaalrivier oor te neem. Foto: Anthony Turton

Turton waarsku die Vaalrivier ontaard vinnig in ’n tweede Hartbeespoortdam, wat al jare met indringerplante sukkel. Die feit dat munisipaliteite rou riool in die Vaalrivier pomp, het veroorsaak dat die perfekte omstandighede vir die plant geskep word om te floreer.

Turton sê Rand Water, verdien lof. Hulle het sowat twee jaar gelede vir die eerste keer bewus geword van die probleem. “Daar is nie ag geslaan op hul noodkrete nie, en die probleem het nou so uitgekring. Daar was as’t ware ’n ontploffing van die plante.”

Turton sê die waterslaai het nog nie die hele rivier oorgeneem nie. Dit is veral dele by Stonehave, Vereeniging en Vanderbijlpark waar dit waargeneem word.

“Die plant versprei vinnig, en hoewel ons kan probeer om die gevolge daarvan te beperk, gaan ons nie die wortel van die probleem uitgeroei kry nie. Dit is die swak rioleringstelsel.”


’n Donker prentjie word geskets wanneer daar gekyk word na die gevolge van die plant se groei op die rivier. “Een van die gevolge is die waterslaai neem die rivier se oppervlak in beslag en keer basies dat sonlig die water bereik.

“Nog ’n belangrike (verskynsel) is dat die beskikbaarheid van suurstofvlakke in die water direk afhanklik is van die temperatuur van die water. Hoe warmer die water, hoe minder suurstof bevat dit. In tye van hittegolwe sien ons dikwels dat visse opkom na die oppervlak vir water. As hulle nie opkom nie, sal hulle vrek.”

Die ander gevolg is aan ontspanning en rekreasie gekoppel. Die Vaalrivier word gebruik as ’n plek van watersport, hengel en boortritte. Daar is selfs restaurantbote wat nie sal kan werk nie. Dit alles is in gedrang, sê hy.


Hy sê die plant kan verstrengel word in waterpompe. Die Vaalrivier voorsien water aan Gauteng, en die voorsiening kan benadeel word as die pompe nie werk nie.

“Laastens is daar ook ’n toksiese stof, wat as neurotoksies geklassifiseer word, wat afgegee word deur die alge wat saam met die waterslaai groei.”

Die oplossing vir die probleem is glad nie maklik nie, sê Turton. “Ek kan dit onomwonde stel dat ons nog nie in Suid-Afrika ’n oplossing of manier van uitwissing het nie. Selfs met die beste wetenskaplike hulp en tegnologie is daar nie ’n antwoord nie.”

Hy sê al manier om die verspreiding te beperk, is deur voorkoming. “Voorkoming is altyd die beste moontlikheid. Dit kos dalk baie geld, maar hoe langer daar gewag word, hoe meer gaan dit kos.”


Hy is bewus daarvan dat inwoners probeer om die probleem te bekamp deur tennisnette en/of ou swembadnette te skenk om die plant te verwyder. “Dit het meriete, maar dit moet alles gekontroleerd wees. Sodra een van die plante breek, vorm die afgebreekte plant ’n nuwe een.

“Nette gaan nie noodwendig werk nie. Jy baklei teen die natuur, en die natuur wen altyd op die ou einde. Die natuur is geduldig.”

Turton sê ’n ligpunt is die werk wat Rand Water nou doen en die feit dat hy die probleem raakgesien het.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.