On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Koloniale onreg: Museum wil inheemse beendere in Noord-Kaap herbegrawe

───   HEIDRÈ MALGAS 14:42 Mon, 07 Oct 2024

Koloniale onreg: Museum wil inheemse beendere in Noord-Kaap herbegrawe | News Article
Die natuurhistoriese museum in Kaapstad, Iziko. Foto: Facebook

“Die gebiede in die Noord-Kaap waar hierdie individue vandaan kom, sluit in die Kalahari, Rietfontein, Griekwaland-Wes, die Richtersveld, Steinkopf, Boesmanland, Hopetown en Norvalspont.”

Die beendere van amper 40 inheemse mense, wie se oorskot tydens die koloniale tydperk gebruik is vir wetenskaplike ondersoeke, gaan in die Noord-Kaap herbegrawe word.

Hul oorskot is in die eerste kwart van die 20ste eeu versamel vir vergelykende rasse-studies, dikwels deur onetiese of onwettige metodes.

“Die datum vir die herbegrafnis is nog onder bespreking,” sê dr. Wendy Black, projekkoördineerder by Iziko-museums. “Die gebiede in die Noord-Kaap waar hierdie individue vandaan kom, sluit in die Kalahari, Rietfontein, Griekwaland-Wes, die Richtersveld, Steinkopf, Boesmanland, Hopetown en Norvalspont.”

‘Die oorskot is destyds uitsluitlik vir rassenavorsing gebruik’

Dit is versamel deur handelaars en navorsers soos W.B. Mageunis in 1908, eerw. H. Kling tussen 1909 en 1911, H. Drew in 1911 en dr. V.H. Brink en P. Laidler in 1923.

Die oorskot is destyds uitsluitlik vir rassenavorsing gebruik en uitgeruil tussen Suider-Afrikaanse en Europese instellings, maar die mense was nie slagoffers van konflik nie, sê Black.

Om inligting oor die beendere op te spoor, het navorsers deur die museumargief gesif, wat briewe aan die versamelaars ingesluit het. Hoewel die verkrygingsregisters ’n mate van konteks verskaf het, was gedetailleerde inligting beperk.

Europese ontdekkingsreisigers was van die vroegste tye gefassineer deur die inheemse bevolking van Suider-Afrika. Die Nederlander Robert Jacob Gordon het waarskynlik dié woning van sogenaamde Strandlopers boord van die Oranjeriviermond in 1779 geskets. Foto: Rijksstudio

“Om die individue by name te identifiseer is onmoontlik. Ons het ’n beperkte geografiese inligting wat hulle as afstammelinge van Khoisan-afkoms identifiseer, maar geen verdere besonderhede is beskikbaar nie.”

Die natuurhistoriese museum in Kaapstad handhaaf reeds sedert herbegrafnisgesprekke in 2016 verhoudings met verskeie Noord-Kaapse gemeenskappe. Hy het ook met die Sanraad saamgewerk, en gemeenskapsleiers uitgenooi om aan voortgesette besprekings oor etlike jare deel te neem.

“Iziko-museums is ’n begroting toegeken om hierdie finale betrokkenheid moontlik te maak, en ons sal met die herbegrafnis voortgaan sodra konsensus bereik is,” voeg Black by.

Suider-Afrikaanse instellings en Europese museum het die oorskot van inboorlinge uitgeruil om rassenavorsing te doen. Foto ter illustrasie: Rijksmuseum, Amersterdam

“Volgens die museum se ervaring is die mees betekenisvolle aspek van die herbegrafnis om uiteindelik voorvaderlike oorskot ter ruste te lê.”

Die herbegrafnis kan ’n deurslaggewende rol speel om koloniale ongeregtighede en praktyke uit die verlede reg te stel, sê Black. Hopelik sal dit help om vertroue te herstel tussen gemeenskappe en die instellings wat destyds gestig is.

Hulle beplan om ook 54 individue se oorskot van Colesberg te verskuif, sowel as ander individue na Namibië en potensieel Botswana. Hierdie pogings is in verskillende stadiums van betrokkenheid en praktyk.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.