Central SA
Nuwe prinsipaal van Bloemfonteinse sentrum passievol oor kinders─── ELSABÉ DE JAGER 14:27 Thu, 18 Jan 2024
“Mense, met spesifieke verwysing na die jeug en hul behoeftes, sal altyd my passie bly.”
Sy is opgewonde oor die personeel, vrywilligers, gemeentes en donateurs wat deurentyd hul hande vat en die uitdagings makliker maak.
Carin Beukes, prinsipaal van Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum in Bloemfontein, het begin vanjaar die leisels oorgeneem by Frikkie van Dyk. Beukes, wat langer as twee dekades bestuurservaring het en ’n B.Soc.Sc.-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, sê sy sal altyd streef na die beste belang van elke kind wat aan alternatiewe sorg toevertrou word.
Die Kinder- en Jeugsorgprogram is verantwoordelik vir die voltydse versorging van 724 kinders in 33 jeugsorgsentrums op verskeie Vrystaatse dorpe. Die kinders is deur die kinderhof daar geplaas. Inwoners word voortdurend geassesseer met die oog op plasing. Hulle neem ook deel aan programme wat liggaamlike, emosionele, sosiale, godsdienstige en opvoedkundige ontwikkeling bevorder.
Carin saam met haar steunpilaar, Gerhard Beukes. Foto verskaf
Vir Van Dyk, wat sedert Januarie ’n nuwe pos by die Engo- provinsiale kantoor vir Jeugsorgsentrums beklee, was dit nie maklik om ná 18 jaar afskeid te neem van die inwoners en personeel van die Kinder- en Jeugsorgsentrum hier in Bloemfontein nie.
“Vir my het daar egter ’n nuwe tyd aangebreek en ek gaan steeds voort met die sorgverlatersprogram. Dit is inderdaad ’n suksesprojek van Engo,” sê hy. Met die sorgverlatersprogram word spesifiek gefokus op die behoeftes van kinders wat die sorg van Engo ná skool moet verlaat.
Die Kinder- en Jeugsorgsentrum Bloemfontein bestaan reeds sedert 1914. Foto verskaf
Beukes is bewus van heelwat uitdagings en onvoorsiene omstandighede wat op haar wag. Vir haar is die grootste uitdaging om daarin te slaag dat elke kind korrek geplaas word, sodat in al sy of haar behoeftes voorsien kan word. “Mense, met spesifieke verwysing na die jeug en hul behoeftes, sal altyd my passie bly,” benadruk sy nog ’n keer met die groetslag.
OFM Nuus/Elsabé de Jager cg