On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Vrolike, kleurvolle, dapper Elsje Neethling in die Paarl gegroet

───   KAREN VAN DER BERG 13:54 Fri, 12 Jan 2024

Vrolike, kleurvolle, dapper Elsje Neethling in die Paarl gegroet | News Article
Elsje Neethling se lewenslus het só baie mense geïnspireer. Foto verskaf

“My suster was eiesoortig, kleurryk en groter as die lewe self. Ons was lief vir haar en ons lewe gaan baie minder interessant wees sonder haar.”

In ’n volgepakte saal vol liggies, kandelare, kerse en blomme is Vrydag (12/1) afskeid geneem van Elsje Neethling (43), wat op 23 Desember gesterf het ná haar jare lange stryd teen kanker.

Ryk Neethling het gesê van vroeg af was dit reeds duidelik dat Elsje op haar eie wysie gaan dans. Foto: Skermgreep

Elsje is die suster van die Olimpiese swemmer, Ryk Neethling. Hy en haar ouers, Ryk en Sanmarie, en suster, Jean-Marié, en haar man, CJ Stander, Blou Bul-rugbyspeler, het mekaar deurlopend ondersteun.

Die Neethling-gesin was geliefde inwoners en het diep spore in Bloemfontein getrap voordat hulle ’n paar jaar gelede na die Paarl verhuis het. Honderde mense het die gedenkdiens op die Ashanti-landgoed in die Paarl bygewoon.


Ds. Wollie Grobler, oudleraar van die NG Gemeente Bloemfontein-Noord (Klipkerk) in Bloemfontein het die troosdiens behartig. Hy het op sy kenmerklike manier troos aan familie en vriende van Elsje gebring. Die diens is met ’n skyfievertoning van foto’s van Elsje se kleurryke lewe begin.

Grobler het as teksvers uit 1 Petrus 4 gelees: As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien.

Hy het gesê die woorde was baie waar in Elsje se lewe. “Dit is ook wat sy van ander wou hê. Ons erf van haar om soos sy te wees, om met dié genadegawe te leef.”

Elsje Neethling. Foto: Facebook

Paul Cassar, oudskoolhoof van die Hoërskool Eunice in Bloemfontein, waar Elsje in 1998 gematrikuleer het, het ook ’n roerende huldeblyk gelewer. “As ek julle vra om julle oë toe te maak en Elsje in jul geestesoog te sien, is ek seker sy sal ’n groot glimlag hê. Elsje was ’n merkwaardige mens. Haar skooluniform was altyd opgehelder met ’n blom in haar hare.”

Cassar het ook gesê Elsje het skool toe gegaan om te leer, maar in die proses het sy inderwaarheid ander geleer hoe om te lewe.

Elsje en haar broer Ryk Neethling. Foto: Facebook

Ná Cassar se hudeblyk het haar broer, Ryk, ook oor haar gepraat: “Ek dink ek en Elsje was teenoorgesteldes. Sy was mal oor drama en om luidrugtig te wees. Sy het altyd gesê: Keep it real. So ek gaan dit vandag so doen, Elsje.”

Ryk het gesê van vroeg af was dit reeds duidelik dat Elsje op haar eie wysie gaan dans. “Sy was dapper en sterk, en mense was verstom oor hoe sy gelewe het. Aan die einde was daar net nie meer oplossings nie, maar sy het aanhou veg. Deur alles het sy nooit haar sin vir humor en haar styl verloor nie.”

Elsje Neethling. Foto: Facebook

Ryk het ook hulde aan hulle ouers gebring: “My pa was die rots wat ons almal bymekaargehou het. My ma het vir Elsje die geleentheid gegee om haar merkwaardige lewe te lei waarin sy so baie mense se lewe aangeraak het.”

Ryk het afgesluit en gesê: “My suster was eiesoortig, kleurryk en groter as die lewe self. Ons was lief vir haar en ons lewe gaan baie minder interessant wees sonder haar.”

Elsje Neethling saam met haar suster Jean-Marie Stander. Foto: Facebook

Jean-Marie het die bedankings namens die familie gedoen.

“Elsje, jy was so dapper en sterk tot aan die einde. Ons sal vir altyd dankbaar wees dat ons jou geken het en jou ons dogter, suster of vriendin kon noem.”

Daar was nie ’n droë oog nie toe die sanger Amanda Strydom, Elsje se peetma, die diens afgesluit het met twee liedjies. Die eerste was die “Pelgrimslied”.

“Ek dink nie Elsje sou wou gehad het ons moet almal hier sit en huil nie,” het Strydom gesê en toe haar liedjie “Slippers van satyn”, wat sy jare gelede vir Elsje geskryf het, gesing. “Die liedjie het Elsje se gees vasgevang,” het Strydom gesê.

Hier is ’n opname van die diens:

Elsje Neethling|Memorial service|12 Jan 2024 (youtube.com)

OFM Nuus/Karen van der Berg cg/

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.