On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse gesin se moordenaars kry 40 jaar elk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:34 Mon, 10 Mar 2025

Noord-Kaapse gesin se moordenaars kry 40 jaar elk | News Article
Die Brand-gesin. Foto: Facebook

Die drie verdagtes wat van die moorde op ’n Noord-Kaapse gesin aangekla word, is byna vyf jaar ná die voorval tot 40 jaar tronkstraf gevonnis.

Donald Seolesang (25), Tshepo Visagie (43) en Tshepoane Melato (24) is skuldig bevind aan die moorde op Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54) van Hartswater in die Noord-Kaap, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Benewens die moordaanklagte is die trio skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg, maar Kgomotso Mpumlwana (48), die vierde verdagte, is vrygespreek. Seolesang is ook skuldig bevind aan die ontsnapping uit polisieaanhouding.

“Elkeen is 25 jaar gevangenisstraf vir die drie moorde opgelê en vyf jaar elk vir drie aanklagte van regsverydeling – vonnisse wat samelopend uitgedien sal word, asook 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.”

Donald Seolesang (25), Tshepo Visagie (43) en Tshepoane Melato (24) is skuldig bevind aan die moorde op die Brand-gesin. Foto: NPA

Seolesang het nog twee jaar gekry omdat hy uit aanhouding ontsnap het. Hierdie vonnisse sal ook gelyklopend uitgedien word, behalwe die vonnisse vir roof met verswarende omstandighede en regsverydeling, wat opeenvolgend met die moordvonnisse uitgedien sal word.

Dis Brand-gesin is op 26 Julie 2020 vermoor toe die bejaarde egpaar en hul dogter gewelddadig in hul plaashuis oorval is. Heidi Taljaard, hul oorlewende dogter wat in Kaapstad woon, het bekommerd geraak nadat sy nie haar ouers kon bereik nie.

Sy het Stephen Bennie, ’n familievriend, gevra om te gaan kyk. Toe hy by die gesin se huis aankom, was hulle skoonveld, en hul voertuie, skootrekenaars, selfone en ’n handsak was ook weg.

Die moordenaars is aangekeer terwyl hulle een van die gesteelde voertuie van die Brand-gesin bestuur het. Foto: NPA

Die polisie en boeregemeenskap is in kennis gestel, en kort ná die moorde is een van die verdagtes, Realeboga Manyedi, in hegtenis geneem.

Manyedi het die polisie na die plek gelei waar die liggame van die drie slagoffers in ’n veld naby Taung versteek is. Die oorblywende verdagtes is aangekeer terwyl hulle een van die gesteelde voertuie van die Brand-gesin bestuur het.

Seolesang het later uit aanhouding ontsnap, maar is weer in hegtenis geneem nadat ’n familielid die polisie laat weet het waar hy hom bevind. Die verdagtes het in aanhouding gebly tot hul skuldigbevinding en vonnisoplegging.

Voordat die verhoor begin het, het Manyedi ingevolge Artikel 204 van die Strafproseswet staatsgetuie geword.

Tydens hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat Seolesang, Visagie en Melato by Manyedi se huis aangekom het in ’n Mazda met ’n bloedbevlekte kattebak. Manyedi, Visagie se jonger broer, is beveel om ’n emmer te bring om die motor skoon te maak.

Hy het getuig dat die beskuldigdes later teruggekeer het na die plek waar die liggame versteek was en dit verskuif het om hul misdade te verdoesel en die ondersoek te verhinder.

OFM Nuus cg

 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.