Central SA
Atletiek Vrystaat se president geskors weens vorige seksklag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:58 Mon, 10 Mar 2025

Byna vyf jaar nadat ’n vroulike atleet die omstrede Atletiek Vrystaat se president van seksuele aanranding aangekla het en hy skuld erken het, is hy deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) geskors.
ASA het Saterdag (8/3) in ’n verklaring gesê sy direksie het Donderdag (6/3) op ’n vergadering eenparig besluit om Steven Swarts, president van AV, van sy pligte te onthef hangende ’n ondersoek na sy “gedrag wat ASA in oneer gebring het”.
Swarts en AV is Saterdag in kennis gestel van sy skorsing, hangende sy dissiplinêre verhoor, luidens ’n verklaring van ASA wat ook Saterdag uitgereik is.
Kapt. Lorraine Earle, polisiewoordvoerder, het destyds aan OFM Nuus gesê die voorval het op 25 Junie 2018 by die atletiekveld van ’n skool plaasgevind. “Die beskuldigde het na bewering die slagoffer, Marcia van Niekerk (toe 21), met sy vinger gepenetreer terwyl hy haar ’n massering [ná ’n sportbesering] gegee het.”
Marcia van Niekerk. Foto: Facebook
Van Niekerk het die voorval die volgende dag by die polisie aangemeld. Earle sê Swarts is in Junie 2018 deur die polisie in hegtenis geneem vir die verkragting ná ondersoeke. Hy het daarna in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn en is aanvanklik op borgtog van R1 000 vrygelaat voor sy latere skulderkenning.
Swarts is in 2018 deur die LUR van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning in die provinsie, Mathabo Leeto, uit sy posisies van adjunkpresident van Atletiek Vrystaat, raadslid van die Vrystaatse Sportkonfederasie en die Kommissaris in die Vrystaatse Sportakademie geskors.
Wayde van Niekerk, Swarts en Caster Semenya. Swarts het verlede week aan Rapport gesê sy bekentenis was ’n leuen.
“Ek het niemand verkrag nie. Ek het skuldig gepleit. Eerstens was dit om finansiële redes, want ek kon nie bekostig om R40 000 per dag te betaal vir my regsverweer in ’n uitgerekte hofsaak vir maande nie. Tweedens was dit omdat ek nie vertroue in die stelsel gehad het nie en derdens omdat ek daardie dag daar uitgestap het na my vrou en my kinders toe en dit was die belangrikste ding vir my,” het Swarts gesê en bygevoeg dat hy eintlik die slagoffer was, want “wanneer gaan dit stop”.
Swarts is ondanks die skuldigbevinding deur lede van Atletiek Vrystaat tot president verkies. “(Hulle) is glo mislei oor die erns van die oortreding en die uitkoms daarvan,” lui ASA se verklaring.
Swarts is die stiefpa en afrigter van die Olimpiese atleet Wayde van Niekerk.
Die ASA-direksie het op 21 en 22 Februarie met die raad van Atletiek Vrystaat vergader vir leiding oor die situasie aangesien daar steeds lede was wat Swarts ondersteun het. Die ASA was daarna “verplig” om Swarts te skors. Hy is sedertdien van al sy pligte onthef, hangende die uitslag van die dissiplinêre verhoor.
Leonard Jingose, adjunkpresident van AV, neem intussen as president waar.
Aanloop tot Swarts se skorsings
Runningmann het berig dat ’n groep Vrystaatse atlete glo in Junie 2024 daarvan bewus geword het dat Swarts skuldig was aan ’n seksoortreding en ook op die Nasionale Register van Seksoortreders was.
Die groep van nege atlete het toe glo ’n mosie van wantroue in Swarts se leierskap by AFS ingedien en ’n brief van kommer aan ASA gestuur. Die AFS9 is summier deur AFS geskors omdat hulle “die organisasie in oneer gebring het” en is heeltemal deur ASA geïgnoreer.
Op 31 Januarie het die AFS9 ’n prokureursbrief aan ASA gestuur, waarop hulle uiteindelik opgetree het. ’n Afvaardiging bestaande uit al die senior ASA-amptenare het op Vrydag 21 Februarie na Bloemfontein gereis vir ’n vergadering met Swarts en die AFS-raad en toe al die AFS-hardloopklubs die volgende dag toegespreek.
ASA het versuim om direk te vergader en met die AFS9 in gesprek te tree om hul kant van die storie te hoor en eerder gewag tot ’n vergadering met alle AFS-klubs die volgende dag waar hulle die AFS9 in ’n oop forum ondervra het en hulle die skuld gegee het dat hulle kwessies geopper het en “suur druiwe gehad het”.
ASA het volgens hulle in geen stadium die hoofkwessie aangespreek nie – dat 'n veroordeelde verkragter die AFS-presidentskap beklee en steeds in noue kontak met kwesbare jong atlete is nie.