On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Dienspligveterane kuier saam in Kimberley

───   ELSABÉ DE JAGER 14:47 Thu, 11 Jan 2024

Dienspligveterane kuier saam in Kimberley | News Article
'n Gesellige uitreikgeleentheid tesame met ’n skenking is onlangs in Klerksdorp gehou. Foto: Facebook

Militêre diensplig in Suid-Afrika het op 9 Junie 1967 in werking getree en is in 1994 deur ’n Grondwetwysiging afgeskaf.

En dit was twee jaar van klippe kou, kan jy onthou? Twee jaar sonder Ma se kos, twee jaar van pakkies in die pos…

So dink die akteur en sanger Philip Moolman tydens landwye uitreikbesoeke met sy eie komposisie “Twee jaar", saam met die manne terug aan hul weermagdae.

Vir baie is die herinnering aan daardie tydperk in hul jongdae soet, maar vir vele het die terugkeer na die lewe tuis met steil bulte en groot hartseer gepaardgegaan. Militêre diensplig in Suid-Afrika het op 9 Junie 1967 in werking getree en is in 1994 deur ’n Grondwetwysiging afgeskaf.


“Elke jong man was verplig om daaraan deel te neem; vandaar die woord diensplíg”, sê Moolman, direkteur en ambassadeur van die Veteranebystandsfonds (VBF).

Philip Moolman dink met nostalgie terug aan die tuiskoms na sy weermagopleiding. Foto verskaf

Hy vertel geesdriftig oor die dryfveer agter die totstandkoming van die VBF. Naas duisende weermaglede wat hul dienspligtyd suksesvol afgehandel het, was daar duisende wat teruggekeer het huis toe met emosionele, fisieke of finansiële skade.

By gebrek aan sielkundige en ander toepaslike hulp het heelwat huwelike skade gely, noodsaaklike mediese hulp het agterweë gebly en aanpassingsprobleme in die werkplek is ondervind. Mettertyd het talle van hierdie manne eensaamheid en ’n gevoel van verstoting beleef. Landwyd het die samelewing as’t ware van hulle begin vergeet.

“Die staat se arm is kort om hierdie verwondes by te staan,” sê Moolman. Die VBF, ’n organisasie sonder winsbejag, se doelwit is om hulle te help. ’n Oop hand van die gemeenskap kan help sorg vir voedsel, klere, huisvesting en mediese sorg aan die veterane.

’n Middagete en ook heelwat verrassings wag op die manne tydens die byeenkoms. Foto verskaf

Donderdag (18/1) vind ’n bederfgeleentheid vir alle nasionale dienspligveterane plaas in die NG Gemeente Dutoitspan se kerksaal in Kimberley. Benewens ’n gratis konsert en ete is daar ook ’n R500-geskenkbewys op die spel. 

Moolman wys daarop dat dit noodsaaklik vir elke veteraan is om sy identiteitsdokument en Sassa-kaart saam te bring.

Om saam te kuier met hierdie manne by uitreikgeleenthede landwyd, hulle die versekering te gee dat hulle nie alleen is nie en die waardering te beleef wanneer nood verlig word by ’n verwonde, sal altyd vir hom ’n groot voorreg bly, sê Moolman.

OFM Nuus/Elsabé de Jager dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.