Central SA
Instandhouding, wanbetaling veroorsaak waterprobleme in Bloemfontein─── HEIDRÈ MALGAS 20:40 Tue, 05 Dec 2023
Daar word aan verskeie pompstasies gewerk en inwoners sal binnekort meer water hê.
Groot dele van Bloemfontein is al meer as vyf dae sonder water of behoorlike waterdruk. Sello More, munisipale bestuurder, sê daar word aan verskeie pompstasies gewerk en inwoners sal binnekort meer water hê.
Inwoners beweer die waterverskaffing is onderbreek omdat die Mangaung-metro nie ’n kontrakteur betaal het vir die opgradering van die Hamilton-pompstasie nie. Netwerk24 het einde verlede maand berig die metro skuld die kontrakteur glo R5 miljoen.
Daar is sedert verlede week probleme by die Hamilton-pompstasie wat water aan ’n groot gedeelte van die noordelike voorstede verskaf. Qondile Khedama, metro-woordvoerder, het aan OFM Nuus bevestig die kontrakteur is wel betaal.
More het Maandag (4/12) op ’n mediakonferensie gesê die waterverskaffing en -kapasiteit het skielik in duie gestort. Hy het die noodsaaklikheid benadruk om die instandhouding van die waterinfrastruktuur te ondersoek.
Bloemfontein ervaar dié tyd van die jaar hoë waterverbruik, maar die warmer weer plaas meer druk op die stelsel, sê hy.
OFM Nuus dg