Central SA
Orkney: Raadslid bly agter tralies vir sy hele verhoor─── 14:43 Fri, 24 Nov 2023
“Dit sluit in statutêre verkragting, die vervaardiging van kinderpornografie, verkragting en seksuele intimidasie.”
’n Geskorste raadslid van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se borgtogaansoek is in die landdroshof in Orkney van die hand gewys.
Tebogo Sepale (43) staan tereg op elf aanklagte. Dit sluit in statutêre verkragting, die vervaardiging van kinderpornografie, verkragting en seksuele intimidasie. Die staat kan nog aanklagte byvoeg wanneer sy verhoor op 17 Januarie in die streekshof begin.
Hy het Vrydag (24/11) weer in die hof verskyn na aanleiding van ’n polisieverslag waarvolgens Klerksdorp se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ’n saak ondersoek het van crimen injuria en twee sake van statutêre verkragting. Die sake is by die polisiekantoor in Kanana, Orkney, aanhangig gemaak.
In een geval het die beskuldigde glo naakfoto’s met die klaer gedeel. In ’n afsonderlike voorval is die klagtes van statutêre verkragting op 6 Mei vanjaar deur die ouers van twee seuns van 15 en 17 jaar by die polisie ingedien.
Sepale bly in aanhouding tot sy saak afgehandel is, sê Henry Mamothame, Noordwes se NVG-woordvoerder.