Central SA
Piekniek in Bloemfontein bring diabeteslyers bymekaar─── ELSABÉ DE JAGER 12:12 Tue, 31 Oct 2023
![Piekniek in Bloemfontein bring diabeteslyers bymekaar Piekniek in Bloemfontein bring diabeteslyers bymekaar | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/4aefebc5-5eee-49a6-8dc0-b9a5e6043a66.jpg?crop=0,0,531,299)
Om die dag verder op te kikker, word speletjies vir kinders aangebied. Opwindende pryse, geskenk deur borge, is op die spel.
“My visie vir hierdie piekniek is om lewenslange vriendskappe te vestig sodat lyers kan weet daar is altyd bystand en omgee.”
Laura Steyn (23), ’n Bloemfonteiner wat self diabetes het, gesels geesdriftig oor die tweede jaarlikse gesinspiekniek, wat sy organiseer. Dit word op 4 November in die Botaniese Tuin in Bloemfontein gehou, tien dae voor Wêrelddiabetesdag op 14 November.
Lauren Steyn reël die piekniek vir diabeteslyers en hulle geliefdes. Foto verskaf
“Diabetes, veral tipe 1 diabetes, is ’n siektetoestand wat nooit ten volle opgeklaar word nie,” sê Steyn, wat self ’n lyer is. Dis ’n chroniese toestand; daarom moet die bystand ook chronies wees. Diabeteslyers moet deurentyd bewus wees daarvan dat byeenkomste soos die voorgenome piekniek vir hulle die geleentheid skep om ontspanne saam te kan kuier en daar te wees vir mekaar.
’n Dag wat onthou sal word. Foto verskaf
Om die dag verder op te kikker, word speletjies vir kinders aangebied. Opwindende pryse, geskenk deur borge, is op die spel. Alle piekniekgangers sal ook die geleentheid kry om te proe aan produkte wat veilig is vir diabeteslyers. Verteenwoordigers van verskeie maatskappye wat bydra tot die bewusmaking van diabetes, sal gereed wees om vrae te beantwoord.
Steyn hoop nog sulke byeenkomste sal in die Vrystaat aangebied kan word. Sy beskou dit as ’n goeie geleentheid vir vriende en familie van diabeteslyers om saam te kuier mekaar te ondersteun. Die las van dié toestand rus nie net swaar op die lyer nie, maar ook op hul geliefdes, wat saam ’n stryd teen die siekte voer.
Leersame inligting is tydens verlede jaar se besprekings gedeel. Foto verskaf
Al is die pad van diabetes vir Steyn ’n moeilike een, is November vir haar ’n maand waarin sy jaarliks al die uitdagings wat sy oorkom het, saam met haar medelyers kan vier.
OFM Nuus/Elsabé de Jager