Central SA
Weerdiens rig waarskuwing oor koue, nat weer─── 08:28 Mon, 30 Oct 2023

“Ons verwag erge donderstorms oor die westelike dele van die Noordwes-provinsie, wat oor die Noord-Kaap versprei, asook sterk wind wat skade in Namakwaland kan aanrig.”
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n waarskuwing gerig oor ’n koue front wat na verwagting vandeesweek nat en winderige toestande oor dele van die land sal bring.
Erge donderstorms, wat tot rukwinde kan lei, word in die Vrystaat, Noordwes, dele van die Noord-Kaap, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en die noordelike dele van KwaZulu-Natal verwag.
“Nog ’n waarskuwing wat ons Sondag ontvang het, is ontwrigtende sneeu wat tot moontlike gevaarlike padtoestande in die Oos-Kaap kan lei. Ons verwag ook sterk wind wat skade in Namakwaland in die Noord-Kaap en die Matsikama-munisipaliteit in die Wes-Kaap kan aanrig,” het die weervoorspeller Lehlohonolo Thobela gewaarsku.
“Ons verwag erge donderstorms oor die westelike dele van die Noordwes-provinsie, wat oor die Noord-Kaap versprei, met ontwrigtende sneeu wat steeds by die Drakensberge val. Koue toestande sal na verwagting Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo raak.”