On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Koue stuit nie skole se geesdrif vir toneelfees in Karoo

───   15:07 Mon, 22 May 2023

Koue stuit nie skole se geesdrif vir toneelfees in Karoo | News Article
Die wenners van die Logan-skoletoneelfees 2022. FOTO: Dirk van Schalkwyk

Die warmte en gasvryheid van die inwoners van Fraserburg in die Hardemanskaroo maak dat die winterkoue hier nie eens saak maak vir skoletoneelspelers van Sentraal-Suid-Afrika en elders in die land nie.

Dit is die mening van Annamarie Malan, die Hoërskool Jim Fouche (JF) in Bloemfontein se kultuurhoof, oor waarom hulle in die yskoue Augustusmaand aan die Logan-toneelfees op dié dorp gaan deelneem. JF is een van verskeie skole uit alle uithoeke van die land wat aan dié oudste skoletoneelfees gaan deelneem.



“Verlede jaar was ons eerste keer, en dit was ’n ongelooflike ervaring. Die atmosfeer was wonderlik,” sê Malan. “Dit was ook ’n groot voorreg om te sien wat ander skole op die planke bring. Die leerlinge het omtrent die dorp op horings geneem.”

‘Ons is oorval met aansoeke’

Sy vertel hulle neem drie verhoogstukke na die Karoo. “Dit het toevallig so uitgewerk dat al drie ons toneelstukke oor die invloed van sosiale media op tieners gaan.” Malan sê sy is dankbaar vir die geleentheid en hulle sien baie uit daarna, koue en al.



Die voorsitter van die  Loganfees, Gerhard Visagie, sê die belangstelling in vanjaar se fees het al hul verwagtinge oortref. “Ons is oorval met aansoeke. Die fees was binne die eerste drie weke vol bespreek.”

Hy sê dit is regtig verblydend dat so baie skole drama en toneel as ’n prioriteit beskou.

Hierdie jaarlikse gebeurtenis wat van 1 tot 5 Augustus plaasvind, word as ’n hoogtepunt in die skoletoneelfees beskou. Die kunstenaar Pedro Kruger beskryf dit as die “Cravenweek van toneel” in Suid-Afrika.

Die Logan-skoletoneelfees word beskryf as die “Cravenweek van toneel”. FOTO: Dirk van Schalkwyk

Visagie sê die feesprogram bestaan uit meer as 40 skoolproduksies van laer- sowel as hoërskole. “Al die ou bekende toneelskole is terug op ons verhoog. Ons is ook veral bly dat soveel skole uit die Vrystaat deelneem soos Grey Kollege, JF, en Hoërskool Eunice van Bloemfontein.”

Hy sê hulle streef daarna om ’n toneelplatform te skep waarby almal kan aansluit.

“Die familie raak net groter.”

Hulle sien ook baie uit na die produksie van die Pionierskool in Worcester. “Net die feit dat gesiggestremde leerders met soveel oorgawe op ’n verhoog kan speel, is verstommend.”

Visagie sê die Loganfees bied nie net geleenthede vir nuwelingakteurs en dramaturge nie. “Dit bied ook ’n uitstekende tegniese infrastruktuur.”

Die TV-aanbieder en akteur Vilje Maritz, Rafiek Mammon en Gary Naidoo is die beoordeelaars.

• Produksies begin die Dinsdag tot Donderdag om 17:30 en Vrydag- en Saterdagaand om 17:00. Kaartjiepryse wissel van R50 tot R70 vir die aand se vertonings. Besprekings is noodsaaklik. Bel Jianadi Haas by 066-156-6116.

OFM Nuus/Karen van der Berg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.