On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Nikki
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Bekroonde digter Johan Myburg besoek Naln

───   13:10 Mon, 08 May 2023

Bekroonde digter Johan Myburg besoek Naln | News Article
Johan Myburg FOTO: Verskaf

Die bekroonde digter Johan Myburg se besoek vandeesweek aan Bloemfontein is ‘n hoogtepunt op elke boekliefhebber se kalender.

Op 11 Mei tree prof. Henning Pieterse, professor in Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat, in gesprek met Myburg oor sy  jongste bundel Narreskip.

Die geleentheid vorm deel van die 50ste verjaarsdagviering van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum. 

Johan Myburg is welbekend by radioluisteraars vir sy weeklikse bydrae oor internasionale letterkunde vir die RSG-program Skrywers en Boeke. Hy is ook ‘n joernalis en kunskritikus. In 2009 is hy aangestel as kunskurator vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, en in 2010 as kunskurator vir Beeld. In 2011 tree hy op as een van die beoordelaars vir die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk.


Myburg sê sy skryfloopbaan het vroeg in sy skooljare begin vorm kry. Van sy gedigte het gereeld in die skoolblad, later ook in die universiteitsblad op Potchefstroom verskyn.

In 1984 debuteer Myburg met die digbundel Vlugskrif. Tien jaar later volg Kontrafak, wat bekroon word met die Eugene Marais-prys. In 2008 verskyn Kamermusiek, en in 2018 Uittogboek. Hierdie bundel word bekroon met die ATKV-Woordveertjie, en in 2020 met die Hertzogprys.

In Mei 2022 verskyn Narreskip, uitgegee deur Protea Boekehuis, op die rak. Resensent Louise Viljoen noem dat die titel ’n verwysing is na Sebastian Brant se gedig uit 1494, “Das Narrenschift”. Die gedig vertel van ‘n skip vol dwase op pad na Narragonië, ‘n genadelose satire van die menslike swakhede en ondeugde van sy tyd. Daniël Hugo verwys na die gedigte as “reaksie op die wetteloosheid en anargie wat ons deesdae in Suid-Afrika ervaar.” Myburg se antwoord op hierdie verwysing is, miskien het die mensdom nog altyd in ‘n gekkeparadys geleef. Die omstandighede vir gekheid is nou net besonder geil.

Myburg vertel in een van sy gesprekke van die stille inspirasie wat hy destyds geput het uit die portrette teen sy klaskamermuur op Gimmies – die Louws, Eybers en Cloete. Vandag put ons as lesers inspirasie uit die werk van die digter wat sê: “Vir poësie is lesers nodig. Lesers wat poësie lewend wil hou.”

Navrae kan gerig word aan Annelien Diedericks.

OFM Nuus/Elsabe de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.