On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse boer rou oor jongste seun

───   BAMBATHA GIKO 15:35 Fri, 24 Mar 2023

Vrystaatse boer rou oor jongste seun | News Article
FOTO's: Verskaf

“ ’n Mens sal hom nooit weer sien nie. Jy sal hom nooit weer hoor nie. Hy’s weg, net weg vir altyd …”

Die Vrystaatse boer en sakeman Bertus van der Westhuizen sê hy het nie die afgelope week kans gesien om aan sy jongste seun, Louis (24), se uitkenning deel te neem nie.

“Een van sy broers en my vrou, Louise, het gegaan. Hulle sê dit lyk net of hy lê en slaap. Hy is gelukkig nie geskend nie.”

Louis van der Westhuizen (24) het Vrydag (13/3) in ’n fratsongeluk gesterf op die Greenlandspad noordwes van Heilbron nadat hy en ’n vriend oor dié se huweliksreëlings gesels het. Louis sou sy strooijonker gewees het.

Louis se bedroefde pa vertel sy laatlam sou ná sy gesprek met Johan Strydom by sy vriend se ouers oornag het, maar hulle en nog vriende se laaste oomblikke was by ’n nabygeleë vulstasie.

“Daar is ’n video geneem waar hulle almal by sy bakkie gestaan en vleispasteitjies geëet het. Van daar het hulle toe gery. Hulle sou na Johan se ouerhuis toe gegaan het.”

Maar op pad het twee van Louis se bande die pad verlaat. “Dis verskriklik smal, die teerpad. Ek hoef nie vir mense te vertel hoe ons paaie lyk nie.”

Die pa van vier sê blykbaar het sy seun beheer oor die voertuig probeer kry. Maar te oordeel aan die stukkende vellings aan die linkerkant moes Louis uitgeswaai het voordat sy bakkie gerol het. “Hy’t uitgeval en sy nek gebreek.” 


Louis was besig met die tweede rondte van sy leerlingskap as dieselwerktuigkundige en het ook reeds ’n deel van sy vlieëniersopleiding voltooi.

Sy pa onthou hom as ’n saggeaarde jong man, wat maklik met enigeen kon gesels. Hy was gelief onder sy vriende en het goed met almal oor die weg gekom.

“Ek kan net bysê Louis was baie lief vir die aarde. Hy was baie lief vir diere. Hy was ’n aardse mens, dit kan ek ook sê.

“Die honde en katte het altyd om hom gegroepeer as hy in ’n geselskap was. Dit maak nie saak waar hy kom nie, ’n hond kies hom uit. Daar was ’n band tussen hom en diere. Hy was baie geheg aan hulle.”


Sy pa sê hulle berus in hul seun se dood en vra net mense moet bid dat hulle die krag sal kry om hierdeur te kom.

“Dit is iets verskrikliks. Dit is al wat ek kan sê. Jy weet, jy soek hom. Hy was elke dag saam met my, saam met ons gesin … Jy soek sy stem, jy soek sy bakkie se dreun en jy soek hom aan tafel.

“Jy soek sy môresê. Jy soek sy nagsê. Dis maar ’n groot gat in ’n mens se lewe wat nou ontstaan het. ”

Louis word oorleef deur sy ouers asook sy drie broers, Jaco, Armand en Westner. Hy word Dinsdag (28/3) op die Vegkop-feesterrein, 25 km suid van Heilbron, begrawe.

OFM-nuus/Bambatha Giko

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.