On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Burgemeester van Kimberley wil die stad ‘regruk’

───   CHARNÉ KEMP 13:00 Fri, 24 Mar 2023

Burgemeester van Kimberley wil die stad ‘regruk’ | News Article
Kagisho Sonyoni, burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

Die Sol Plaatje-munisipaliteit se “jeugdige” burgemeester sê hy en sy amptenare het ’n vyfjaarplan om die stad se diensleweringsprobleme op te los.

Kagisho Sonyoni het ná ’n twee dae lange strategiese beplanningsessie met amptenare gesê hy is veral opgewonde oor die R2,5 miljard toelae wat die tesourie goedgekeur het om die infrastruktuur reg te ruk.

“Ons kry die eerste paaiement met die aanvang van die nuwe boekjaar wat in Julie begin, en sal die bedrag in sarsies oor drie jaar kry,” sê Sonyoni, wat homself beskryf as “jeugdig”. “Ek sal nie toelaat dat ons nié die geld bestee nie en dit later noodgedwonge aan die tesourie moet teruggee nie.”

Sy groot kwessies is probleme met watertoevoer, lekkende pypnetwerke, die Riverton-onttrekkingsaanleg in die Vaalrivier, Newton-opgaardamme en die Homevale-rioolaanleg.

Die Kamfersdam langs die rioolaanleg is oorvol, wat die vuil water tot aan die nasionale pad laat strek.

“Ons is reeds hard aan die werk by die rioolaanleg. Foutiewe pompe is uitgehaal en weggestuur vir herstelwerk. Die een spoorlyn is nie meer onder water nie, en die watermassa begin wegtrek van die N12 af.”

Sodra die aanleg in volle werking is, kan gesuiwerde water na Langlegpan weggepomp word en nie net na Kamfersdam nie.

Hy sê hulle het reeds die pos geadverteer vir ’n direkteur van infrastruktuur. “Die nuwe aanstelling sal ’n professioneel gekwalifiseerde kundige wees. Dit sal ’n vaste aanstelling wees, eerder as ’n kontrak.

“Ons moet die infrastruktuur opknap om nuwe beleggers na die stad te lok. Niemand wil ’n besigheid oopmaak as daar gedurige watertoevoerprobleme is, of rioolpype lek nie.”

Kimberley se bevolking het drasties toegeneem, maar uitbreidings aan die infrastruktuur het nie tred gehou nie.

Die Sol Plaatje-universiteit word ook betrek omdat dié instelling nie kan groei as die infrastruktuur nie groeiende studentegetalle kan akkommodeer nie. “Ons werk ook saam met die universiteit om vaardighede binne die munisipaliteit te verbeter.”

Sy oogmerke is om dienslewering te verbeter, deursigtig en verantwoordbaar op te tree, die munisipaliteit se finansiële verknorsing te verbeter en ekonomiese groei te stu.

“Ek werk nou saam met die omliggende myne om gunstige omstandighede vir hulle te skep. Die stad is afhanklik van die myne en ondernemings om werk te verskaf en inwoners se lewensgehalte te verbeter.”

Hy wil onder meer ook die padnetwerk verbeter en die vloedwaterslote en -pypnetwerk opknap om vloede te verminder.

Intussen is hy verheug dat sekuriteitsmaatreëls vrugte afwerp om kabeldiefstalvoorvalle in Roodepan te verminder. “Ons het oral sekuriteitskameras opgerig en doen gereeld patrollies.

“Kabeldiefstal het egter in Cassandra toegeneem. Ons sal daar ook nuwe maatreëls instel. Die plan is om nuwe tegnologie eerder as koperkabels in sekere gebiede te gebruik. Ons wil ook toesien dat skrootmetaalhandelaars verbied word om koper aan te koop.”

Werkers doen ook gereelde onderhoudwerk op die elektrisiteitsnetwerk om kragonderbrekings te verminder. Volgens hom werp dit reeds vrugte af. “Met vandeesweek se swaar reën, het ons baie minder kragonderbrekings gehad.”

Die munisipaliteit se skuld aan Eskom beloop R720 miljoen. “Ons wil ’n nuwe afbetalingsooreenkoms met die kragverskaffer aangaan. Ek is seker ons kan teen die einde van die jaar die skuld afbetaal uit die geld wat staatdepartemente ons skuld.

“Die premier het beloof staatsdepartemente sal hul skuld van R880 miljoen ten volle vereffen.

“Ons is in elk geval al munisipaliteit in die land wat verlede jaar kragtariewe met net 4,5% opgeskuif het, en nie die Nersa-aanbeveling van 18% gevolg het nie. Dit het ons finansieel benadeel, maar minstens is krag meer bekostigbaar vir inwoners.”

Die munisipaliteit oorweeg om weer ’n munisipale polisiediens en munisipale hof in te stel om mense wat munisipale verordeninge oortree, soos onwettige storting, te beboet.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.