On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse ouers in hof vir onwettige aanneming, bedrog

───   17:55 Wed, 22 Mar 2023

Vrystaatse ouers in hof vir onwettige aanneming, bedrog | News Article

Twee Vrystaatse ouers is onder vier mense wat Maandag 20 Maart 2023 in die landdroshof in Botshabelo verskyn het op aanklag van onwettige aanneming en bedrog.

Die Valke het Dinsdag bevestig dat die vier mense op Vrydag en Saterdag in hegtenis geneem is nadat die polisie ‘n wenk van 'n amptenaar van die Departement van Binnelandse Sake ontvang het, berig TimesLive.

Volgens ‘n woordvoerder van die Valke in die Vrystaat, Fikiswa Matoti, het die amptenaar agterdogtig geraak toe twee vroue, 'n Lesotho-burger en 'n Suid-Afrikaner, onderskeidelik 35 en 51 jaar oud, laat registrasies vir twee kinders van onderskeidelik vyf en 15 jaar oud wou indien.

“Die amptenaar wat hulle bedien het, het agterdogtig geraak en die polisie dadelik in kennis gestel. Ná ’n voorlopige ondersoek is ontdek dat ’n amptenaar van die departement van gesondheid glo buitelandse burgers werf om kinders onwettig aan te neem,” het Matoti aan Sunday World gesê.

“Die vrou identifiseer kinders en onderhandel met hul ouers om toestemming te gee dat hulle aangeneem word, in ruil vir 'n geldbeloning, sou hulle instem. Sy neem dan die kinders na ’n amptenaar van binnelandse sake wat hulle registreer.”

Die kinders word dan vir welsynstoelaes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) geregistreer, wat onder die verdagtes verdeel word, volgens 'n mediaverklaring deur die polisie. 

Matoti sê die saak is na die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Bloemfontein verwys vir verdere ondersoek.

“Twee ander verdagtes van 29 en 59 jaar oud, vermoedelik die ouers van die betrokke kinders, is ook Saterdag in hegtenis geneem. Nog inhegtenisnemings is op hande.”

Die vier beskuldigdes, Motsidisi Setlai, Mpolai Mabele, Matsidiso Molete en Thokozile Maphisa bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning wanneer hulle vir borgtog sal aansoek doen.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.