On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Laurika
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse pad het 1 034 slaggate oor 30km

───   06:22 Tue, 08 Nov 2022

Vrystaatse pad het 1 034 slaggate oor 30km | News Article
'n Deel van die pad tussen Marquard en Clocolan. FOTO: Verskaf

Vrystaat Landbou het hul ontevredenheid uitgespreek met die provinsiale Departement van Polisie, Paaie en Vervoer se skynbare onwilligheid om slaggate op die R708-pad tussen Clocolan en Marquard reg te maak.

Die kommersiële bestuurder by Vrystaat Landbou, Jack Armour, sê daar is 1 034 slaggate oor 30km op die pad.

“Die plaaslike paaiedepartement se werkers is so min, oor die laaste vyf jaar kon hulle eintlik niks regkry nie. Dit is onverstaanbaar dat hulle hierdie jaar, op 'n krities-belangrike pad, nog nie ‘n kontrakteur kon aanstel om die pad ordentlik reg te maak nie,” sê Armour.

Luidens ‘n verklaring deur Vrystaat Landbou, is sommige dele van die pad minder as drie meter breed, met altesaam 35 slaggate per kilometer.

Armour sê hy twyfel nie dat die departement oor die fondse beskik om die kwessie aan te spreek nie.

“Met die regering wat werkskepping beklemtoon, kan ons nie verstaan hoekom hulle nie op grondvlak werkers kan aanstel om basiese werk op paaie te doen nie.”

Intussen sê ’n raadslid van die Setsoto-plaaslike munisipaliteit, Phillip Vermeulen, dat sommige boere wat van die pad gebruik maak, reg in eie hande geneem het deur die slaggate met sand op te vul. 

Dit is egter net ’n tydelike oplossing, aangesien die pad na sy vervalle toestand terugkeer wanneer dit reën.

“Daar is geen onderhoud op grondpaaie nie, hier is van die paaie wat drie jaar laas geskraap is,” sê Vermeulen.

OFM-nuus/Bambatha Giko

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.