On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Duisende ruk op teen omstrede Bela-wet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:01 Mon, 04 Nov 2024

Duisende ruk op teen omstrede Bela-wet | News Article
Lede van die verskillende organisasies teen die Bela-wet. Foto verskaf

’n Beplande optog teen die sogenaamde Bela-wet sal na verwagting die grootste betoging deur die Afrikaanse gemeenskap sedert 1994 wees.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, moedig mense aan om op Dinsdag (5/11) saam te staan.

Dosyne organisasies en derduisende mense sal na verwagting deelneem aan die optog, wat sal strek van die Voortrekkermonument na die Vryheidspark, sowat 2 km daarvandaan oorkant Unisa.

Die hoofrede vir die optog is om versoekskrifte aan verteenwoordigers van die regering van nasionale eenheid te oorhandig om teenkanting teen die wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) te kenne te gee, sê Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof.

Kallie Kriel. Foto: AfriForum

In die memorandum word vra dat klousules 4 en 5 van die Bela-konsepwet geskrap word.

OFM Nuus het vroeër berig klousule 4 bepaal dat ’n provinsiale departementshoof die laaste woord sal spreek oor ’n skool se toelatingsbeleid, sonder om insette van die beheerliggaam te oorweeg. Kragtens klousule 5 kan die provinsiale departementshoof ’n openbare skool verplig om nog onderrigtale in te voer.


Meer as 40 organisasies steun die optog, waaronder Solidariteit-instellings soos AfriForum, Kaapse Forum, Solidariteit Helpende Hand, die Skoleondersteuningsentrum, FAK, Akademia, Bo-Karoo Opleiding, Sol-Tech en Rapportryers, asook die Afrikaanse Taalraad, Afrikaanse Onderwysnetwerk, die Afrikanerbond, Afrikanerleiersnetwerk, AP Akademie, Aros, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, MOS, die Pretoriase Kamer van Handel, Saai, TLU SA en die Voortrekkers.

Heindrich Wyngaard, Kaapse Forum-voorsitter. Foto: Kaapse Forum

Kriel beklemtoon die huidige bepalings met betrekking tot toelatings- en taalbeleid hou die “grootste enkele uitdaging in vir Afrikaanse kultuurgemeenskappe sedert 1994”. Hy beskou die voortdurende teenkanting teen dié klousules, onder meer deur AfriForum sedert 2017, as ’n kritieke stryd in dié organisasie se 18-jarige bestaan.

“Hierdie kwessie is deurslaggewend vir die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe, aangesien Afrikaanse skole ’n integrale deel van hierdie groepe is,” sê Kriel. “Om ’n magsbalans te handhaaf en die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe te beskerm, is ’n sigbare protes nodig.”

Onderhandelings met verskeie politieke partye duur voort, sê dr. Dirk Hermann, Solidariteit-bestuurshoof. “Die druk van die betoging sal hierdie onderhandelinge aansienlik aanhelp.

Dr. Dirk Hermann. Foto: X

“Dit moet ’n demonstrasie van krag wees. Gesprekke vind ook binne die regering van nasionale eenheid plaas.”

Heindrich Wyngaard, Kaapse Forum-voorsitter, voeg by dat Afrikaanse ouers wat versuim om die taalklousule van die Bela-wet teë te staan, aandadig daaraan is om hul kinders se toekoms in gevaar te stel.

Die optog sal om 09:00 by die Voortrekkermonument in Pretoria begin.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.