Central SA
Kalahari se veldbrande beweeg na Botswana─── 08:42 Fri, 14 Oct 2022
Verwoestende veldbrande wat al heelnag by Mier in die Kalahari woed, beweeg nou na die Kgalagadi-oorgrenspark en Botswana.
Verwoestende veldbrande wat laat gistermiddag in die omgewing van Mier in die Kalahari begin het, kon steeds nie deur brandspanne onder beheer gebring word nie.
Verskeie plase in die omgewing se weiding is reeds verwoes en winderige toestande vererger sake vir boere.
Die woordvoerder van die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Zandisile Luphahla, sê die brand beweeg in ’n oostelike rigting na Botswana, waar brande ook reeds in die westelike deel van die land voorkom.
Hy sê die westelike deel van die brand by Mier beweeg na die Kgalagadi-oorgrenspark waar brandspanne regstaan om die vlamme te blus.
LEES OOK: Brand buite Kimberley aangemeld
Hy sê die skade aan weiding en veral medisinale plante “is enorm”. Geen lewensverliese is aangemeld nie maar talle diere is dood.
Wilhelmien Willemse, wie se familie in die omgewing boer, sê dit is hartseer om die verwoesting te aanskou. “Dit is swaar om te sien hoe boere sukkel om die weiding vir hulle diere in die reeds droë gebied te probeer red.”
Bewerings van beskadiging aan plakkershuise by Welkom kon nie bevestig word nie.
Die departement versoek dat mense onmiddellik veldbrande aanmeld sodat brandspanne geaktiveer kan word.