On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Oscar
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Gerben
Listen Live Streams

Business

Inwoners van Clarens paniekerig oor watervoorsiening

───   OLEBOGENG MOTSE 15:32 Wed, 06 Nov 2024

Inwoners van Clarens paniekerig oor watervoorsiening | News Article
Foto verskaf

Beplande instandhoudingswerk aan die Lesotho-Hoogland-waterprojek-tonnel sou na verwagting net ’n geringe impak op watervoorsiening gehad het.

Kommer neem egter toe onder inwoners van Clarens in die Oos-Vrystaat oor die dorp se eie waterreserwes wat vinnig leegloop. 

“Ons gemeenskap staar ’n reuse-uitdaging in die gesig.” Inwoner en lid van die Clarens-sakekamer Gert Kruger sê aan die OFM Sake-uur inwoners moet nou staatmaak op reserwes uit ’n dam, wat slegs genoeg water vir ses tot agt weke het.

Voortgesette wateronderbrekings is die gevolg van die ses maande lange instandhouding.

Die Dihlabeng-munisipaliteit het in vennootskap met die departement van water en sanitasie ’n projek van stapel gestuur om verskeie boorgate in die omgewing te sink om die watervoorraad aan te vul. Kruger sê dié projek word vertaag, maar wou nie die aard of omvang hiervan op rekord plaas nie.

LEES OOK: Clarens hou eeufees

Hy het wel bevestig ongeveer die helfte van die beplande 15 boorgate is gesink, en sommige is reeds toegerus met pompe en sonpanele. Sekere boorgate is reeds in werking en dra by tot die watervoorsieningstelsel, maar die voorraad bly beperk. 

“Met dié dat die watervlak van die dam elke week aansienlik daal, is ons diep bekommerd.”

Foto: Lani Fouché

Die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, en haar adjunkte, David Mahlobo en Sello Seitlholo, sal na verwagting binnekort besoek aflê om vordering met die instandhoudingswerk te evalueer.

Die Trans-Caledon Tunnel Authority en die Lesotho Highlands Development Agency is vir die instandhoudingswerk verantwoordelik.

OFM Sakeuur mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.