Business
Mening: Wat beteken tweede Trump-termyn vir ekonomie?─── 13:46 Fri, 24 Jan 2025
Donald Trump is terug in die Withuis ... Prof. Waldo Krugell, ’n ekonoom verbonde aan die Noordwes Universteit, meen Suid-Afrika se ekonomiese welsyn – soos dié van meeste ander globale ekonomieë – is nie op sy lys van prioriteite nie.
Trump het ná sy inhuldiging as die 47ste president van die Verenigde State van Amerika geen tyd verkwis om dieselfde golwe te maak wat kenmerkend van sy eerste presidentskap was nie.
“Hy het bevele onderteken om die VSA uit die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en die Parys-klimaatooreenkoms te verwyder. Trump was nog nooit skaam om sy ‘Amerika eerste, tweede en derde’ retoriek te verkondig nie,” meen Krugell.
“Daar is baie gespekuleer oor wat Trump se tweede presidentskap vir Suid-Afrika en ons ekonomie gaan beteken. Meeste van die kommentaar gaan oor sy handelsbeleid en die moontlikheid van tariewe op produkte wat die VSA invoer. Dit gaan veral oor handel met China en Mexiko.
“Daar is ook sprake van ’n algemene tarief op die produkte wat hulle invoer, maar so iets behoort nie ’n groot impak op Suid-Afrika se uitvoer-mededingendheid te hê nie, omdat alle lande geraak word. Die groter gevaar is dat die Trump-regering min aandag sal gee aan die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie. Dit sal ons raak as hulle sommer besluit om byvoorbeeld bykomende tariewe op staal, motors of sitrus te hef.”
Die veel groter impak sal wees hoe sy beleidstellings ekonomiese groei, indiensneming, staatskuld, inflasie en rentekoerse in die VSA beïnvloed en hoe dit dan oorspoel na ons eie wisselkoers en rentekoerse.
“Die invoer-tariewe gaan hulle inflasie verhoog. As sy pro-besigheidbeleidstellings hul ekonomiese groei versnel, sal dit inflasie verhoog. As sy deportasie-immigrasiebeleid hul arbeidsmag laat krimp, sal dit lone verhoog, wat inflasie verhoog. Dit alles sal hul rentekoerse hoog hou en die dollar sterk. As sy belastingverligtingsplanne hul staatskuld verhoog, sal dit ook rentekoerse hoog hou.
“Dit is slegte uitkomste vir Suid-Afrika. Ons ekonomie groei skaars en het min inflasionêre druk. Ons wil graag rentekoerse verder sny, maar sal dit nie kan doen as VSA-koerse hoog bly en die rand-dollar-wisselkoers swakker is nie.”
Trump se invloed op die VSA se binnelandse ekonomiese voorspoed mag dividende lewer, maar sy vierjaartermyn sal weinig doen om Suid-Afrika se ekonomie weer “great again” te maak.
OFM Nuus cg