Business
Inflasiemandjie: Waaraan bestee Suid-Afrikaners hul geld?─── 07:00 Sat, 01 Feb 2025
Die moontlikheid van beurtkrag is pas weer aangekondig, wat dalk selfs veranderinge in Suid-Afrika se nuutste inflasiemandjie beïnvloed het.
Statistieke Suid-Afrika het sy inflasiemandjie herrangskik volgens die goedere en dienste wat gebruik word om verbruikersinflasie te meet.
Die mandjie word af en toe hersien om veranderinge in verbruikersbestedings te weerspieël. Altesaam 71 nuwe items is bygevoeg, 53 is uitgehaal en 29 is herorganiseer, wat die totaal van 396 tot 391 produkte verminder.
Rosé, snuif en e-sigarette is in die mandjie geplaas en bevrore aartappelskyfies en kondensmelk is onder meer verwyder om die land se veranderende inkopiegewoontes te weerspieël. Nog nuwe kosprodukte is basmatirys, vleisbene, vleispasteitjies en voorbereide etes. Voorafgemengde meel, gegeurde melk en gemaalde koffie/koffiebone.
Die nuwe mandjie brei die dekking van onderwysverwante items uit. In die klerekategorie sal Statistieke SA nou ’n reeks skooldrag-items se pryse dophou. Skoolvervoerdienste en naskoolsentrums is ook ingesluit. Dit sal nou ook moontlik wees om onderwysinflasie afsonderlik vir private en openbare skole en universiteite te bepaal.
Beurtkrag het moontlik die veranderinge in die mandjie beïnvloed, wat gelei het tot die insluiting van gas in silinders en kerse. Munisipale dienste word uitgebrei om vullis- en rioolverwydering in te sluit. Huishoudelike items wat die mandjie gehaal is, sluit in die nederige broodrooster/toebroodjiemaker, huishoudelike batterye en skoenpolitoer.
Verskeie produkte en dienste word in die gesondheidsmandjie geplaas, soos kliniekdienste, ortopediese chirurge, oogkundiges, brille, fisioterapeute, langtermyn-versorgingsentrums en patologiedienste. Die mandjie bevat nie meer openbare gesondheidsdienste nie, soos openbare, algemene praktisyns (huisdokters) en openbare spesialiste.
Die toenemende gebruik van e-taxidienste het verseker dat dit as ’n nuwe item ingesluit word. Skoolvervoerdienste, wat vroeër genoem is, word ook by die vervoerkategorie gevoeg. Rybewyse en posbusverhuring is uit die mandjie gehaal.
Nuwe tegnologie word ingesluit. Stroomdienste, modems en roeteerders, USB- en eksterne hardeskywe, kragbanke en laaikabels sal nou deur die verbruikersprysindeks (VPI) nagespoor word. Landlyntelefoonfooie en satelliet-TV-dekodeerders is nie meer deel van die mandjie nie.
Die insluiting van speelgoedboublokkies (Lego) in die ontspanningskategorie word uitgelig. Verskeie produkte is egter laat vaar. Teddiebere is byvoorbeeld nou uit die oudedoos. Digitale kameras, musiekinstrumente, TV-lisensies en tydskrifte is ook uit die inflasiemandjie verwyder – gewus ’n teken van veranderende tye.
Die volgende items is bygevoeg in die kategorie persoonlike versorging en diverse dienste: lyfwas, oorbelle, naskoolsentrums, ledegeld vir beroepsverenigings en vakbonde, en huur van toerusting vir geleenthede. Persoonlike versorgingsprodukte wat verwyder is, sluit in tandeborsels, sneesdoekies, seker haarprodukte (kleur en “relaxers”) en nie-elektriese skeerapparate.
Die struktuur van die mandjie is gebaseer op data van die inkomste-en-uitgawe-opname 2022/23 en verkoopspuntrekords.
Die gewigte van die produkte in die mandjie word ook bygewerk om veranderinge in huishoudelike besteding te weerspieël. Die gewig van behuising en nutsdienste is nou 24,1%, af van 24,5%, terwyl voedsel se gewig tot 18,2% styg, vanaf 17,1%. Die vervoerkategorie daal tot 13,9%, maar brandstof se aandeel krimp en passasiersvervoerdienste se gewig word meer om daarvoor te vergoed.
Versekering se aandeel daal tot 8,4% van 9,9%, hoofsaaklik weens ’n laer gewig vir gesondheidsversekering. Hierdie aangepaste gewigte bied ’n akkurater weerspieëling van verbruikersbestedingspatrone in Suid-Afrika, sê Statistieke SA.
Elke produk in die inflasiemandjie verteenwoordig ’n gewig van die huishoudelike uitgawes, wat die berekening van die wesenlike inflasiekoers beïnvloed. Stats SA gebruik data van die IES-opname en ander bronne om hierdie gewigte te bereken, wat nou bygewerk is om 2023-data te weerspieël.
Die statistiekediens sal inflasiedata op grond van hierdie nuwe mandjie in die Januarie-opdatering op 19 Februarie uitreik.
OFM Nuus mc