On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Business

Wat presies het bekendstelling van Starlink in Suid-Afrika vertraag?

───   OLEBOGENG MOTSE 12:52 Fri, 11 Oct 2024

Wat presies het bekendstelling van Starlink in Suid-Afrika vertraag? | News Article
My Broadband se redakteur, Jan Vermeulen. Foto verskaf

Die Suid-Afrikaanse regering oorweeg dit om Elon Musk se satellietinternetdiens, Starlink, in die land toe te laat.

Huidige SEB-regulasies vereis dat telekommunikasiemaatskappye minstens 30% in swart besit is, wat Starlink tans verhinder om hier sake te doen.

Solly Malatsi, minister van kommunikasie, het egter nou ’n plan aangekondig wat die deur sal oopmaak vir Elon Musk se SpaceX om Starlink in Suid-Afrika bekend te stel. Maar waarom het dit in die eerste plek so lank geneem?

Jan Vermeulen, redakteur by MyBroadbandsluit aan by OFM Nuus-redakteur, Morné van Rooyen, op die OFM Business Hour om hierdie ontwikkeling te bespreek en te verduidelik watter regulatoriese uitdagings die bekendstelling van Starlink in Suid-Afrika belemmer het.

Volgens Vermeulen was Suid-Afrika voorheen een van die eerste lande op Starlink se lys van beplande ontplooiings, met voorafbestellings vir die diens wat plaaslik in Februarie 2021 bekendgestel is. Die amptelike bekendstelling in Suid-Afrika was vir 2022 beplan.

In 2021 het die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) die bedryf onkant gevang deur nuwe regulasies uit te reik wat eienaarskapsvereistes vir telekommunikasiemaatskappye in Suid-Afrika verander het.

LEES OOK: Elon Musk nie meer wêreld se rykste man

Wat het hierdie nuwe regulasies bepaal?

Hierdie regulasies het bepaal dat dit nie meer voldoende is dat nasionale netwerkoperateurs en diensverskaffers 30% besit word deur histories benadeelde groepe, naamlik swart mense, die jeug, vroue en mense met gestremdhede, insluit nie. In plaas daarvan moes telekommunikasieverskaffers met ’n nasionale voetspoor 30% in swart besit wees.

Dié regulasies het ’n herrie veroorsaak. Okosa het daarna die implementering daarvan tot ’n toekomstige onbekende datum uitgestel.

Hoewel dit nie uitdruklik gestel is nie, word daar geglo die onsekerheid rondom regulasies het ’n vertraging in die bekendstelling van Starlink in die land veroorsaak, wat Suid-Afrika met ’n onbepaalde bekendstellingsdatum gelaat het.

Starlink is sedertdien in ander Afrika-lande soos Nigerië, Rwanda, Mosambiek, Kenia, Malawi, Benin, Zambië, Eswatini, Sierra Leone, Suid-Soedan, Madagaskar, Botswana en Ghana bekendgestel.

Nuwe ontwikkelings wat aandui dat Starlink dalk binnekort in Suid-Afrika bekendgestel sal word

In September 2024 het president Cyril Ramaphosa Elon Musk in New York ontmoet oor dié kwessie en ander beleggingsvooruitsigte. Ramaphosa het ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 79ste sitting van die Verenigde Nasies se algemene debat gelei.

Die minister van kommunikasie het daarna ’n verklaring vrygestel wat aangedui het dat samesprekings in New York moontlik produktief was.

Malatsi sê in die onlangs vrygestelde verklaring: “Dit is my voorneme om ’n beleidsrigting aan Okosa uit te reik ingevolge artikel 3(2) van die Wet op Elektroniese Kommunikasie, om die departement van kommunikasie en digitale tegnologie (DKDT) se standpunt oor die erkenning van ekwiteit-ekwivalente programme te verduidelik, vir dringende oorweging.

“Daar is twee dele van die inisiatief. Eerstens moet ons regulatoriese struikelblokke vir belegging in goedkoop, betroubare breëbandinternet verlaag. Tweedens moet ons die prys verlaag van die slimtoestelle wat nodig is om 4G- en 5G-data te gebruik. Vandag is ek gefokus op die eerste deel. Aankondigings oor die tweede deel sal mettertyd volg.

Ná oorlegpleging met Okosa sal die voorgestelde beleidsrigting gepubliseer word vir kommentaar soos per artikel 3(5) van die wet. Beleidsduidelikheid oor die erkenning van ekwiteit-ekwivalensieskemas word lank reeds deur rolspelers in die IKT-industrie versoek. Dit sal die sekerheid verskaf wat nodig is om groter belegging in IKT te lok en universele internettoegang te versnel.” 

OFM Business Hour mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.