On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Business

Tweepot-skok: Duisende se pot toe glo leeg

───   11:24 Fri, 20 Sep 2024

Tweepot-skok: Duisende se pot toe glo leeg | News Article
Die Nasionale Vervolgingsgesag is beveel om munisipaliteit dalk strafregtelik te vervolg. Foto: SARS

“Die tweepotstelsel het verskeie munisipaliteite blootgestel aan die pleeg van hierdie oortreding.”

Die tweepot-aftreestelsel stel duisende werkgewers aan die kaak wat versuim het om hul werkers se pensioenfondsbydraes aan skemas oor te betaal. 

Suid-Afrikaanse bydraers tot ’n pensioenfonds mag ingevolge die nuwe stelsel vanaf 1 September een maal per jaar ’n deel van hul pensioen onttrek, maar talle het met ’n skok besef hulle werkgewer bedrieg hulle.

Haar kantoor ervaar ’n toename in klagtes weens teenstrydighede, sê Muvhango Lukhaimane, die pensioenfondsberegter. “Sowat 82% van klagtes in die verlede was teen werkgewers wat versuim het om werknemers se bydraes te betaal. 

“Soms bedank of tree iemand af en wil hul voordele onttrek, maar kom dan agter hul werkgewer het nie hul bydraes oorbetaal nie. Nou, met die tweepotstelsel, omdat mense kan eis terwyl hulle nog in diens is, besef werknemers ten minste baie vroeër hul werkgewers het nie hul bydraes oorbetaal nie,” sê Lukhaimane aan SABC News.

“Die meeste probleme word op die oomblik in die private sekuriteitsektor ervaar, maar heelwat kom ook voor in die kleinhandelsektor. Ons kantoor ontvang ook talle klagtes van die vervoersektor, asook die metaal- en ingenieursektor.

’n Kwart van werkgewers in die kleinhandelmotorbedryf is agterstallig met voorsorgfondsbydraes, het Martlé Keyter, uitvoerende hoof van die Motorbedryf-personeelgenootskap (Misa), aan Algoa FM gesê. “As ’n werkgewer enige bydraes van die werknemer aftrek, hetsy vir die voorsorgfonds of die werkloosheidsversekeringsfonds, moet dit aan die begunstigde oorgedra word.

“Versuim om dit te doen is bedrog. Vir sommige maatskappye strek dit tot 20 jaar terug. Dit is ’n misdaad en daar moet aanspreeklikheid wees.

“Die Wet op Pensioenfondse is in 2014 gewysig en bepalings is bygevoeg wat beherende aandeelhouers, lede van beslote korporasies, besturende direkteure van maatskappye, trustees en vennote persoonlik aanspreeklik maak vir ’n werkgewer se versuim om bydraes te betaal.” Keyter sê hulle kan tot R10 miljoen beboet word of tot 10 jaar tronkstraf opgelê word.

Misa se regsafdeling het klagtes ontvang van lede wat hul spaarpot wil onttrek, maar besef het hul bydraes is agterstallig.

Hierdie probleem is nie beperk tot die kleinhandelmotorbedryf nie.

News24 berig verskeie munisipaliteite het na bewering werkers bedrieg deur te versuim om geld aan verskillende pensioenfondsadministrateurs oor te betaal. Volgens die tesourie se beoordelaar maak die driejaar-skuldverjaringswet dit makliker vir die munisipaliteite om vas te klou en nie ’n sent uit te betaal aan die werkers nie.

Die tweepotstelsel het dié oortredings by verskeie munisplaiteite aan die lig gebring.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het Mafube-munisipaliteit (Frankfort, Cornelis, Tweeling en Villiers) onlangs beveel om meer as R37,7 miljoen aan werknemers se pensioene te betaal, wat glo verduister is. Die hof het die Nasionale Vervolgingsgesag beveel om te oorweeg om die munisipaliteit strafregtelik te vervolg.

‘Die probleem is as jy nie jou eis betyds aktiveer nie’

Lukhaimane sê aan Moneyweb die proses is redelik maklik. “As jy ’n klag by ons indien, sal ons die klagte binne vier of vyf maande afhandel, en ons sal ’n uitkoms hê wat soortgelyk is aan ’n hooggeregshofbevel.”

Maar as jy nie jou eis betyds indien nie, kan jy dalk hoor jy moes weens omstandighede kon afgelei het dat jou werkgewer nie jou bydrae oorbetaal het nie. Al het jy sewe jaar gewerk en kan jy sewe jaar se aftrekkings bewys, “kan ons net vir jou drie jaar se bydras gee,” sê sy.

OFM Nuus cg/mc/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.