On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Business

Megastad weerskante van Vaalrivier dalk eindelik op dreef

───   MORNÉ VAN ROOYEN 18:42 Fri, 09 Aug 2024

Megastad weerskante van Vaalrivier dalk eindelik op dreef | News Article
Die Vaalrivierstad sal bestaan uit behuising, kantore, winkels en nywerhede. Kunstenaarsvoorstelling: Gautengse regering

“Die mees sigbare ontwikkeling tot dusver is die wisselaar tussen Barrageweg en die Sybrand van Niekerksnelweg. Dié twee paaie verbind die ontwikkeling met Sasolburg, Vanderbijlpark, Vereeniging en Meyerton.”

Nege jaar nadat die Vaalrivierstad-ontwikkeling van sowat R10 miljard aangekondig is, kom die reuse-projek blykbaar eindelik op dreef.

Die Vrystaat sal samewerkingsprojekte met Gauteng bestuur om die nuwe stad tussen Vereeniging en Sasolburg ’n werklikheid te maak, het Maqueen Letsoha-Mathae, Vrystaatse premier, Woensdag (8/8) in haar rede tydens die opening van die Vrystaatse wetgewer in Bloemfontein gesê.

“Vanjaar sal ons die interprovinsiale inplementeringsprotokol met Gauteng afhandel wat die aard van ons samewerking omskryf,” het sy gesê. “In die 2025/2026-boekjaar sal ons ’n projekontwikkelaar aanstel vir die beplannings- en finansiële aspekte van die Vaalrivierstad-streek aan die Vrystaatse kant. Integrasie met Gauteng sal deurslaggewend wees.”

Die Vaalrivierstad word weerskante van die rivier beplan. Kunstenaarsvoorstelling: Gautengse regering

Toe David Makhura, destyds Gauteng se premier, die projek in Mei 2015 aangekondig het, is dit beskryf as Suid-Afrika se eerste “postapartheid-stad”. Dit sou 400 000 m² kantoorruimte bied, 60 000 m² vir kleinhandel en ontspanning, groot parkgebiede, insluitend ’n voëlskuiling, en 5 000 wooneenhede.

Sedertdien was enige nuus oor die projek skaars, berig Business Tech. Werk is wel al gedoen aan die infrastruktuur in die gebied, wat ’n onderstebo driehoek beslaan tussen die R42 (Barrageweg), R59 (Sybrand van Niekerksnelweg) en die R716 (Ascot on Vaalweg). Die deel noord van die Vaalrivier is geleë in Vereeniging en die deel suid in Sasolburg.

Die mees sigbare ontwikkeling tot dusver is die groot wisselaar tussen Barrageweg en die Sybrand van Niekerksnelweg. Dié twee paaie verbind die ontwikkeling met Sasolburg in die Vrystaat, Vanderbijlpark en Vereeniging in die Emfuleni- en Meyerton in die Midvaal-munisipaliteit, albei in Gauteng se Sedibing-distriksmunisipaliteit.

Die projek sal na verwagting tydens die boufase 7 500 werkgeleenthede skep. Kunstenaarsvoorstelling: Gautengse regering

Destyds is geskat die projek sou tussen R7 miljard en R11 miljard gekos het en sou 7 500 werkgeleenthede tydens die konstruksiefase geskep het. Infrastruktuurbeplanning sou in die 2015/2016-boekjaar begin het, maar geen voltooiingsdatum is genoem nie.

’n Swartbemagtingingskonsortium onder leiding van Reginald Kukama, uitvoerende hoof van die eiendom-en-infrastruktuurdienstegroep Yaetsho Investments and Projects, is verantwoordelik vir die bouwerk. “Die groep werk hoofsaaklik aan staatsprojekte en het miljarde rande se projekte bekom, soos padinstandhouding en die oprigting van staatsgeboue en hospitale,” het Business Tech tydens die rivierstadprojek se bekendstelling berig.

In Mei verlede jaar is aangekondig die Amerikaanse multinasionale beleggingsbank en finansiëledienstemaatskappy Citigroup Inc. gaan met Gauteng se provinsiale regering saamwerk om amper R1,4 miljard se beleggings in die megaprojek, wat nou ook ’n internasionale lughawe insluit, te finansier, het Business Tech berig.

Spilpunte vir logistiek, vervaardiging en landbou

Die bank stel ’n sewe-jaar-leningsfasiliteit beskikbaar aan ’n spesiale entiteit, wat regstreeks in die Mega River City (soos dit nou genoem word) sal belê, het Peter Taylor, hoof van Citi South Africa, aan die sakewebtuiste gesê. Die ontwikkeling kan volgens hom bykomende beleggings van tot R30 miljard lok.

Die Vaalrivierstad-projek is een van vyf gebiede of korridors wat Gauteng geïdentifiseer het vir ekonomiese groei en werkskepping. Die stad weerskante van die Vaalrivier is die eerste van dié projekte. 

Dit sal woongebiede en spilpunte vir logistiek, vervaardiging en landbou insluit en grens aan ’n nywerheidsgebied, wat ArcelorMittal SA se staalaanleg en die petrochemiese reus Sasol se verwerkingsaanleg insluit.

Vrystaatse premier Maqueen Letsoha-Mathae het tydens die wetgewer se opening gesê die Vrystaat sien uit na samewerking aan die Vaalrivierstad. Foto: Keleteso Mosebetsi

Pres. Cyril Ramaphosa het twee jaar gelede aan ’n imbizo in die Vaaldriehoek gesê as ’n mens na ander lande kyk, “het hulle altyd hulle stede om die rivier”. Letsoha-Mathae het die afgelope week sy mening beaam: “Wêreldwyd word vername stede naby rivieroewers gebou. Riviere is nie net ’n bron van lewe nie, maar ook handel en ontwikkeling.”

Nuwe metro kan tot stand kom

“Ons belangrikste stad, Johannesburg, is rondom goudmyne gebou,” het Ramaphosa gesê. “Met dié dat die mynsektor se erts uitgeput is, is ek bly Gauteng se regering kyk anderkant die horison. Hulle het ’n ambisieuse plan beraam: skep ’n stad (weerskante van) die Vaalrivier as deel van ’n spesiale ekonomiese sone, wat daar gestig gaan word.”

Business Tech het destyds berig die projek kan daartoe lei dat Midvaal, Emfuleni en die distriksmunisipaliteit Sedibeng mettertyd saamsmelt in ’n metromunisipaliteit, wat die einde sal beteken van die enigste munisipaliteit wat die DA in Gauteng met ’n volstrekte meerderheid regeer, Midvaal.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.