On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Business

Kabinet vergader oor omstrede begroting

───   12:08 Mon, 24 Feb 2025

Kabinet vergader oor omstrede begroting | News Article
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, en adjunkminister David Masondo tydens die laaste voorbereidings van die G20-vergaderings vir finansies van 24-27 Februarie 2025. Foto verskaf

Die president lei Maandagmiddag (24/2) ’n spesiale kabinetsvergadering in Kaapstad om die uitgestelde begroting te bespreek.

Enoch Godongwana, die minister van finansies, sal na verwagting ’n alternatiewe begroting aanbied sonder die BTW-verhoging, en dit beteken dit sal ’n besuinigingsbegroting wees, het ’n bron aan News24 gesê. 

Die nasionale begrotingsrede is tot 12 Maart uitgestel weens ’n geskil verlede week tussen partye in die regering van nasionale eenheid (RNE), spesifiek oor die voorgestelde BTW-verhoging van twee persentasiepunte. Dit is die eerste keer in die land se demokratiese geskiedenis dat die begrotingsrede uitgestel word.

In sy weeklikse nuusbrief Maandagoggend erken Cyril Ramaphosa die vertraging in die begrotingsrede en die kommer en onsekerheid onder Suid-Afrikaners, beleggers en finansiële markte wat op die begroting staatmaak vir ’n aanduiding van die stand van die land se ekonomie en ekonomiese beleidsrigting.

Ramaphosa stel die land gerus dat, ten spyte van verskille oor die begroting, partye in die RNE saamwerk. “Sulke verskille beteken nie dat die RNE in ’n krisis is nie. Dit beteken dat demokrasie werk.

“Dit is dus noodsaaklik dat die bekommernisse wat deur verskillende partye oor die begroting geopper word, behoorlik aandag kry in belang van aanspreeklikheid, deursigtigheid en konsensus.”

‘Dit beteken die demokrasie werk’

Die president meen die uitstel van die begrotingstoespraak behoort die publiek se vertroue in die RNE te versterk. Alle partye is verenig in hul doelwitte, sê hy. Die uitstellery bemoontlik verdere besprekings oor verskille tussen regeringsvennote.

“Dit is ’n teken van ’n gesonde en robuuste demokrasie dat sulke verskille van tyd tot tyd na vore kan kom en in die openbaar bespreek kan word. Sulke verskille beteken nie dat die RNE in ’n krisis is nie. Dit beteken dat demokrasie werk.”

Ramaphosa voeg by hy is vol vertroue dat die politieke partye mekaar “weereens sal vind”.


Hy het die saak persoonlik aangeraak op die eerste G20-vergadering van ministers van buitelandse sake Donderdag in Nasrec, Johannesburg. Hy sê hy is oortuig daarvan dat die ongekende “haakplekkie” opgelos sou word en voeg by dat die saak nie as ’n krisis beskou moet word nie.

Ramaphosa het verlede week die G20-vergadering amptelik in Johannesburg geopen en toegespreek.

Dit is op 20 en 21 Februarie aangebied deur minister Ronald Lamola van internasionale betrekkinge en samewerking in die Nasrec-eksposentrum, onder Suid-Afrika se G20-presidentskapstema, “Solidariteit, gelykheid, volhoubaarheid”.


Suid-Afrika se G20-presidentskap het in Desember begin. Deur die loop van 2025 sal die land ongeveer 130 werkgroepvergaderings en 23 vergaderings op ministeriële vlak aanbied. 

Die jaar lange beraadslagings sal uitloop op ’n G20-leiersberaad in November.

Intussen bied die nasionale tesourie en die reserwebank die G20-vergaderings vir finansies van Maandag tot Donderdag in Kaapstad aan, wat ministers van finansies, sentralebankbestuurders en hul adjunkte bymekaarbring.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.