On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Business

Matjhabeng-gemeenskap moet deel in planne vir Welkom-lughawe

───   OLEBOGENG MOTSE 12:09 Tue, 09 May 2023

Matjhabeng-gemeenskap moet deel in planne vir Welkom-lughawe | News Article
Foto: Pilot's Post

Die gemeenskap van Welkom en omliggende gebiede behoort ingesluit te word by planne om die Phakisa-renbaan en lughawe te laat herleef.

Die president van die Vrystaatse Goudveldsakekamer, Lisette du Plessis, sê aan die OFM Sake-uur, dat hulle met betrekking tot die lughaweprojek lugvaartkundiges in die gebied het, soos Brian Emmenis, wat kan help om te verseker dat die Welkom-lughawe tot sy volle glorie herstel word.

Dié lughawe kan die Vrystaat help met meer vlugte omdat die aantal vlugte by die Bram Fischer-lughawe in Bloemfontein steeds afneem. Volgende week is die verkeer weer druk danksy Nampo in Bothaville. Du Plessis sê die Welkom-lughawe sou kon help met die verkeersdruk op die paaie as dit tyd is vir Nampo.

LEES OOK; OFM versterk die klank van NAMPO Oesdag

Welkom-lughawe se toestand

Die Welkom-lughawe is in ’n swak toestand. Emmenis het aan die koerant Vista gesê dat twee internasionale vliegtuie van Uganda onlangs in Welkom geland het.

 “Die toilette was stukkend, die geboue vervalle, die gras was lank en het deur die plaveisel gegroei en daar was geen sekuriteit nie,” sê Emmenis. 

 Daar was die afgelope tyd baie aktiwiteite by die Phakisa-renbaan wat baie besoekers gelok het, vandaar die Ugandese vlugte.

Phakisa-renbaan

Die Phakisa-renbaan sê Du Plessis is die slagoffer van bestuurs- en ontwikkelingsprobleme. Sy sê dit is nodig dat daar ’n permanente leierskap is om die Matjhabeng-gemeenskap se omstandighede te verbeter want die laaste keer dat Suid-Afrika 'n Formule 1-wedren hier aangebied het, was in 1993.

 Thabo Meeko, die LUR vir die Vrystaatse Departement van Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake, het al voorheen ’n afvaardiging gelei wat bestaan het uit die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie, asook die Vrystaatse Dobbel, Drank en Toerismeraad. Die doelwit was om met Matjhabeng se burgemeesterskomitee te skakel oor hoe interregeringsverhoudinge gebruik kan word vir die bevordering van projekte en beleggings in die gebied, het hy aan die OFM Business Hour gesê.

LEES OOK: LUR vir Toerisme het groot planne in Vrystaat

Die Matjhabeng- plaaslike raad het glo toestemming gegee dat beleggers vir Phakisa verkry kan word. Meeko sê as die renbaan opgeknap word, kan dit nuwe werkgeleenthede skep. Dit sal ook dien as die kern waarom die breër Phakisa-ontwikkelingsnode gebou sal word.

“Wat die Welkom-lughawe betref, is besluit dat al die betrokke partye beleggers sal soek wat 'n langtermynhuurooreenkoms sal kry om dit in ’n vraglughawe te ontwikkel,” sê Meeko.

OFM Sake-uur



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.