Business
OFM Sake-uur: Grootste wins in verhoudings - Carlo Rohrs─── 19:19 Tue, 15 Nov 2022
Om in pas te bly met jou klante se behoeftes en op hoogte te wees van die nuutste markneigings in die kleinhandelbedryf is die sleutel tot die sukses van enige pandjieswinkel.
Die eienaar van Bedelia's The Bargain Masters in Welkom, Carlo Rohrs, meen om 'n tweedehandse item vir elke nuwe item te hê, is wat sy besigheid van die res onderskei.
Hy vertel aan die OFM Sake-uur sy passie vir verkope het op 'n jong ouderdom ontwikkel nadat hy in die koop- en verkoopbedryf grootgeword het.
Advertensies op OFM en mondelinge reklame is van sy grootste bemarkingsinstrumente.
Sy doelwit, toe hy die besigheid meer as agt jaar gelede gekoop het, was om 'n sukses daarvan te maak en hy kon dit vermag met betroubare personeel wat gewillig is om te leer.
Rohrs glo vas dat harde werk altyd beloon word en hy pluk daagliks die vrugte daarvan in sy onderneming.
"Dit kan jare neem om wins te maak, maar Covid het my geleer dat die grootste wins wat ek kan maak die verhoudings is wat jy met jou klante en jou personeel bou."
Die besigheid bestaan al 41 jaar en hulle het ook uitgebrei met 'n tweede tak.