Business
Staalfabrieke in Vaaldriehoek, KZN sluit – 3 500 verloor werk─── 09:06 Tue, 07 Jan 2025
ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) pak die skuld vir die sluiting van sy langstaalfabrieke op hoë energie- en vervoerkoste, goedkoop staalinvoer uit China en gebrekkige ondersteuning van die regering.
Amsa se aankondiging Maandag (6/1) dat hy produksie van langstaal by sy produksie in fabrieke in Vereeniging en op Newcastle einde vandeesmaand gaan staak, is met misnoeë ontvang. Dit kan tot 3 500 werksverliese lei.
’n Groot aanbod van goedkoop staal wat hoofsaaklik uit China ingevoer word, is een van die redes vir die sluitings, berig News24. Sedert 2018 het staaluitvoer uit Suid-Afrika met 40% afgeneem, terwyl invoer met 50% toegeneem het, sê Amsa.
Vergeefse pogings
Die maatskappy se pleidooi om hulp van die regering het op dowe ore geval. Die besluit om staalproduksie te staak is reeds in November 2023 aangekondig, maar uitgestel ná oorlegpleging met die regering.
Amsa het reeds geruime tyd gewaarsku hierdie dag kan aanbreek en regdeur 2024 probeer om soveel moontlik werksgeleenthede te red en ’n volhoubare toekoms vir die onderneming te skep. Weens strukturele probleme in die bedryf en voortdurende verswakking in wêreldtoestande was al dié pogings vergeefs, berig News24.
ArcelorMittal sê hy het alles in sy vermoë gedoen om werkverliese te keer. Foto: ArcelorMittal
Wydlopende oorlegpleging met die regering en belanghebbendes om lewensvatbare oplossings te vind, was onvoldoende, sê Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, berig The Citizen.
’n Verbysterende 293 754 direkte en indirekte werkgeleenthede kan mettertyd in die slag bly, meen Tafadzwa Chibanguza, bedryfshoof van die Staal-en-ingenieursnywerhede van Suider-Afrika.
‘Verbysterende werkverliese’
“Dit is ’n uitkoms wat Suid-Afrika, gegewe sy reeds onhoudbare werkloosheidsyfer, kwalik kan bekostig,” het hy aan The Citizen gesê.
Netwerk24 het in Desember berig die oortollige vervaardiging van staal wêreldwyd en swak plaaslike marktoestande het die afgelope vyf jaar tot byna 8 000 werkverliese gelei.
In 2019 was altesame 26 504 werkers direk in diens by staalfabrieke in Suid-Afrika. Vyf jaar later het dit tot 18 628 afgeneem.