Business
Potchefstroomse sakekamer bou voort op suksesse─── MORNÉ VAN ROOYEN 18:00 Mon, 16 Dec 2024
Ondanks uitdagings soos krag- en wateronderbrekings kan die Potchefstroomse Sakekamer terugkyk op ’n jaar van suksesse in die plaaslike sakegemeenskap en vorentoe kyk in die wete “aanhouer wen”.
“Daar was suksesstories, en dis absoluut so dat mense daaraan kan vasklou en aanhou om die regte dinge te doen,” sê die voorsitter, Nicholas van den Bergh. “Ons glo regtig dat Potchefstroom en die ekonomie op ’n goeie plek is. Ek dink die boodskap is net om vas te klou daaraan.”
Vir die sakekamer van dié universiteitsdorp was 2024 “eintlik ’n baie opwindende jaar”, vertel Van den Bergh. “Daar’s ’n klomp goed wat absoluut vir ons uitgestaan het, soos die Go Wild-projek saam met Lekwena (’n private wildreservaat buite Potchefstroom) en die gholfdag.”
Nog ’n hoogtepunt was die Classic Clash tussen Potch Gimmies en Volkies. “Ons was deel van die projek om die bome in die dorp te beskerm en om die bome in te kleur in die aanloop tot hierdie rugby- en netbalwedstryde tussen die skole.”
Die sakekamer se bestuur is in Februarie aangewys. Voorsitter Nicholas van den Bergh staan naasregs. Foto: Facebook/Potchefstroom Sakekamer
Wat egter vir die sakekamer die meeste uitstaan van 2024, is die ontwikkeling van hul app. “Dis nog nie heeltemal op die lug nie,” vertel Van den Bergh, “maar dit gaan definitief aanleiding gee dat ons makliker by ons lede en by die gemeenskap as ’n geheel kan uitkom en inligting met hulle kan deel.”
Dié stukkie tegnologie sal lede en inwoners op die hoogte hou van hul bedrywighede en van gebeure in die hele stad, maar kan ook help om nog ondernemings te oorreed om by hulle aan te sluit.
“Ek dink met die tegnologie wat jaar ná jaar vorder, sal ’n instansie soos die sakekamer absoluut agterbly as ons nie bybly nie. Met die app kan ons makliker by die mense en by die gemeenskap uitkom om sodoende meer lede te werf.”
Die sakekamer se gholfdag is jaarliks ’n hoogtepunt. Foto: Facebook/Potchefstroom Sakekamer
Maar dit beteken nie ledewerwing het vanjaar stilgestaan nie. “Deur al ons events en projekte wat ons gehou het, het ons sodoende by mense probeer uitkom,” sê Van den Bergh. “Daar was nogals redelik positiewe terugvoering gewees van die gemeenskap af aan die sakekamer.
“Ek dink veral met ons betrokkenheid by Aardklop en ons verfraaiingsprojekte. Die syfers lyk absoluut positief en ons is baie dankbaar dat die gemeenskap die sakekamer, amper wil ek sê, aanvaar en ondersteun.”
Die verfraaiing was ’n projek in samewerking met Lekwena met die oog op die jaarlike Potch Geesfees. “Dis soortvan ’n voorloper tot Aardklop wanneer mense bietjie ’n smaak gee aan Afrikaanse kultuur.
Geesfees tooi Potchefstroom
Al die uitstallers by die fees en ander belangstellendes neem aan die Geesfees deel wanneer hulle Potchefstroom dae lank mooimaak. “Die sakekamer het die projek begin om al die gelde wat by die hekke gevorder word, te gebruik om die N12-verfraaiingsprojek aan te pak,” vertel Van den Bergh.
“Dit het absoluut vir ons gegaan om die dorp ’n facelift te gee waar ’n mens by die dorp inkom, veral van die N12 se kant af net voor Aardklop.
“So kan alle besoekers sien dat daar ’n grootskaalse poging van die gemeenskap en die sakekamer is om na die dorp en na die paaie en so aan te kyk. En ek moet sê, dit was vir ons nogals ’n baie suksesvolle en ’n baie goeie projek.
Tydens die Geesfees in die aanloop tot Aardklop kry Potchefstroom ’n ‘facelift’. Foto: Facebook/Potchefstroom Sakekamer
“Dit was vir ons goed om te sien hoeveel van die besighede in Potch hande gevat het met die sakekamer en hulleself en hulle werknemers geaktiveer het om hulle geboue en regdeur die dorp skoon te maak in die aanloop tot Aardklop, sodat ons ’n goeie beeld van Potchefstroom vir die besoekers tot Aardklop kan gee.”
Gevra hoe die sakekamer ’n moeilike jaar vol uitdagings beleef het, sê Van den Bergh: “Dit was ’n baie interessante jaar gewees ook, maar met die wêreldverkiesings en die plaaslike verkiesing wat plaasgevind het, het dit ’n groot impak gehad; nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal.”
Weer op hul voete gekom
Die sakekamer is nie blind vir die magdom uitdagings, veral betreffende dienslewering, waarmee sakeondernemings te kampe het nie. “Maar ek moet ook sê dat ons regdeur die jaar gesien het dat daar ’n klomp besighede was wat plaaslik eintlik baie goed gedoen het.
“Dit voel amper of dit die jaar was wat mense weer stadig op hulle voete begin kom het en die ekonomie ten volle weer vorentoe begin beweeg het en ten volle begin funksioneer het.”